In Uncategorised

Die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme Veldtog (Geen Geweld teen Vroue en Kinders) begin vandag. Hierdie veldtog daag Suid-Afrikaners uit om geweld teen weerloses in ons gemeenskap te help staak.

Ons kan sê dat ‘n 16 dae lange veldtog nie regtig iets hieraan kan doen nie, maar ons kan beslis ook nie langer ons koppe in die sand druk en maak asof hierdie aaklikge dinge nie in ons gemeenskappe plaasvind nie.

Daar word elke veertien minute in Suid-Afrika ’n verkragtingsaak aangemeld. Elke uur en ’n kwart word ’n vrou of kind onsedelik aangerand, en elke twee uur word ’n saak van kinderverwaarlosing aangemeld.

Dit behoort meer as genoeg rede tot kommer te wees en meer as genoeg rede vir almal om betrokke te raak by watter program ookal nodig is om hierdie geweld en onreg hok te slaan.

Hierdie is ’n internasionale veldtog wat ontstaan het by die eerste Women’s Global Leadership Institute, wat tydens 1991 deur die Centre for Women’s Global Leadership geborg is. Alhoewel die wêreldwye veldtog slegs op geweld teenoor vroue fokus, het Suid-Afrika as gevolg van die hoë vlak van kindermishandeling, kinders onder die vaandel van dié veldtog bygevoeg.

Die wit strikkie word jaarliks as ’n simbool van persoonlike en organisatoriese verbintenis tot die uitwissing van geweld teen vroue en kinders benut. Dit simboliseer die verbintenis van die draers om nooit geweld teen die weerloses te pleeg of goed te keur nie, en om standpunt in te neem teen geweld waar hulle dit teëkom.

Ek weet ‘n swart hemp op ’n Donderdag en ‘n wit strikkie vir 16 dae is op sigself nie genoeg nie, maar kom ons begin om ruimtes te skep waarin weerloses ‘n stem kan kry. Kom ons sê duidelik, as vroue van die NG Kerk, “NEE” vir geweld teen vroue en kinders!

Ons mag nie langer stilbly nie…