In Uncategorised

Dat Suid-Afrika van die hoogste verkragtingsyfers in die wêreld het, is ‘n algemene feit. Nie net lees ons dit daagliks op koerantvoorblaaie nie, maar ons voél dit. Ons voel dit aan ons lywe en harte en gemeenskappe en kerke. En dit maak seer.

Gedurende die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders is dit asof die res van die wêreld skielik ook wakker skrik. Daar word simposiums en perskonferensies gehou en almal word skielik genooi om oral werkswinkels aan te bied en by te woon. Uit die aard van my werk, word ek oorval met sulke versoeke. Versoeke om te gee en te doen en daar te wees.

Ek het onlangs opnuut besef hoe “duur” dit is om om te gee. Ons wil omgee. Ons moet omgee. Ons gee om. Ons gee om teen ‘n koste: energie, emosionele bandwydte, tyd, hart. Wanneer ek oor hierdie goed dink, vra ek myself telkens af of ons besef hoe belangrik dit is om vir onsself om te gee? Terwyl ek hierdie skryf, besef ek hoe selfsugtig dit klink. Maar dit is nie selfsugtig nie. Selfsorg is alles behalwe selfsugtig – dis blote oorlewing.

Wat beteken Selfsorg?

My verstaan van selfsorg is nie ‘n weeklikse mani-pedi of lekkerruik-olies in klein botteltjies nie. Selfsorg is nie om te maak of die seer en die swaar nie bestaan nie. Maar dis die besef dat as ek wil voortgaan om my medemens met ‘n omgee-hart te hanteer, dan moet ek vir myself (my innerlike medemens) ook met ‘n omgee-hart hanteer. Partykeer beteken dit om “nee” te sê vir verpligtinge of versoeke – selfs van kollegas of familie. Soms beteken dit ‘n goeie skeut grootmens-wees, byvoorbeeld tandarts toe gaan of seker maak dat die belastingopgawe ingedien is. Partykeer is dit om eerlik en reguit te praat met die mense om my. Dikwels beteken dit dat ek moet seker maak dat ek genoeg groente en vrugte eet sodat my hart, liggaam en brein kan voortgaan om oraait te wees. Dalk beteken dit dat ek vriende of familie moet vra vir hulp of raad of eerlik wees oor die feit dat ek sukkel.

Ek glo Jesus was ‘n voorstander van selfsorg. Hy was altyd gemoeid met die moeës en die siekes en het op meer as een geleentheid vir mense van die middele voorsien om vir hulself te sorg. As ons ons naaste moet liefhê soos onsself,dan beteken dit sekerlik dat ons ook na ons eie menswees moet omsien?

Mag jy selfsorg beoefen sodat jy kan aanhou om met ‘n omgee-hart in die wêreld te leef. Mag jy ervaar dat jy en jou behoeftes belangrik is. Mag jy jouself so leer ken dat jy weet hoe om vir jouself te sorg. En meer nog, mag jy jouself liefhê soos jou naaste.

Vir meer praktiese selfsorg-wenke, kyk gerus hier.

Oor my:

Jeanne Bodenstein is ‘n menseregte prokureur en aktivis by Rape Crisis Cape Town Trust en ko-ordineer die Rape Survivors’ Justice Campaign. Sy hou van kamp, musiekmaak, goeie koffie en goeie wyn. Volg hulle gerus op Facebook by RSJC of gaan loer na hul webwerf: https://rapecrisis.org.za/justice-campaign/