In Uncategorised

deur Almatine Leene

Ek was twaalf jaar oud toe ek my eerste paar hoëhakskoene gekry het. Hulle was swart en my vriendin het presies dieselfde gehad. Trots het ons in die straat af gestap en mekaar styf vasgehou ingeval een van ons haar balans sou verloor.

Sleg vir jou voete

Van daardie tyd af het ek al meer hakskoene begin dra en op ‘n stadium was daar glad nie meer plat skoene in my kas nie. Ek is nie eens so kort nie, maar werk meestal saam met mans wat baie langer as ek is en hakskoene het my maar net meer “gelyk” aan hulle laat voel. Al het my voete soms baie seer geraak, het ek nooit gewonder of ek hulle moet dra nie. Tot verlede jaar…

Ek het besluit om nie meer elke dag hakskoene te dra nie, maar eerder te kies vir my eie gerief. Dit voel nog effens vreemd om weer ‘n bietjie korter te wees, maar dit voel ook bevrydend! Ek kan spring, hardloop en voel letterlik meer soos ‘n plat-op-die-aarde-mens. ‘n Klomp vrae het in my kop begin maal: Hoekom wil ek langer lyk as wat ek is? Hoekom dra vroue hakskoene as dit so ongemaklik is? Toegegee, hakskoene is baie mooi, maar glad nie prakties en beslis ook nie goed vir jou voete nie. Maar op die een of ander manier is die mooi baiekeer deurslaggewend.

Afgedank

So ‘n bietjie minder as ‘n jaar gelede was daar ‘n vrou in Londen wat as ontvangsdame begin werk het. Sy is die eerste dag afgedank omdat sy geweier het om hoëhakskoene te dra! Politici en ander mense het kommentaar gelewer en opgemerk dat dit seksisties is as vroue verplig word om sekere skoene te dra. Dit word immers nie van mans verwag nie. Hulle lyk ook netjies in plat skoene. Tog het die kommentaar min verander aan die skoonheidsideaal van vroue.

Vroue word in die wêreld baie meer as mans met skoonheid geassosieer. Hulle word gesien as ‘n tipe Barbie: lang bene, ‘n vietse lyfie, grimering en lang hare bly steeds die skoonheidsideaal in die Westerse wêreld. Maar in “normale” mense-afmetings is Barbie 1,83 meter lank en weeg sy net 50 kg. Dit is ‘n baie ongesonde gewig en nie eens 1% van die vroue in die wêreld is langer as 1,80 meter nie. Tog plaas die prentjies wat ons in die media sien, bewustelik of onbewustelik, baie druk op vroue. Hoeveel keer hoor of sê jy vir ‘n vrou: “Sjoe, jy lyk baie mooi!” Dit is ‘n natuurlike kompliment, maar ons steek steeds vas by die uiterlike.

Die meerderheid vroue sou iets verander aan hulle liggaam as hulle die geld gehad het. Hulle is ongelukkig met hulle gesig, bene, borste, gewig, noem maar die lys. Die meeste vroue voel afgedank of hulle hakskoene dra of nie. Skoene is in elk geval maar net een van die klein tekens van ‘n hoë skoonheidsideaal.

Vryheid

In Galasiërs 5:1 staan: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees”. Van sonde, maar ook van ‘n klomp wette en reëls en onrealistiese verwagtinge en dan nou seker ook van hakskoene. Dalk is dit met die eerste oogopslag vreemd om hierdie teks op jou skoene toe te pas, maar ek dink dat ons baiekeer vergeet hoe belangrik die vryheid van ons liggaam is. Ons liggaam is ‘n tempel van die Heilige Gees en dit beteken dat jy mooi daarna moet kyk en nie die wêreld se standaarde toepas nie. Dit is natuurlik nie ‘n vrybrief om jouself te verwaarloos nie, inteendeel, juis as jou liggaam ‘n tempel is, moet jy sorg dat jy gesond is, genoeg oefening kry en netjies lyk. Dit begin egter by tevrede wees met jou liggaam en eerder God se standaarde te aanvaar as die wêreld s’n. As jyself tevrede is, lyk jy eers mooi en is komplimente en die uiterlike nie meer die belangrikste nie.

Eers dan hoef jy nie elke dag hakskoene te dra nie en kan jy maar ‘n bietjie meer op en af spring!