In Uncategorised

Dankbaarheid is ʼn snaakse konsep. Daar word gereeld vir ons gesê om dankbaar te wees vir wat ons het – ʼn huis, ʼn motor, ʼn werk, kos op die tafel, die tafel waarop die kos staan. Selfs die tafelgebed wat ons om die einste tafel bid, sê ons dankie vir dit wat ons gaan eet (bonus punte as jy dankie sê omdat ander mense nie het wat jy het nie!).

Ek en my man bid elke aand dieselfde gebed. “May the Lord make us truly thankful for the food before us. Please bless the hands that made it and the food to our bodies, and help us help those less fortunate.” Mooi, nè? Ons het ook so gedink, tot op ʼn aand wat my man gekook het en toe toevallig ook bid. “Please bless the hands that…” en toe weet hy nie wat om te sê nie, want dit voel toe verkeerd om sy eie hande te seën. Daar gaan ons gebedjie by die venster uit! Die ‘muscle memory’ het ons in die steek gelaat, en dit is toe dat ons besef dat ons nie altyd ons gebede deurdink nie. Waarvoor wil ek regtig dankie sê vir God?

Toaster Teologie

Dit herinner my aan ʼn ander geleentheid toe ons nog jong getroudes was en sommer vir alles in ons huis nog regtig dankbaar was. Dis mos lekkerder wanneer dit nuut is, nè? Op daardie dag het ons ʼn nuwe broodrooster gekoop, en dit was die eerste ding wat ons regtig saam gekoop het. Ek was so in my skik met daardie broodrooster! Daardie nag toe ons saam bid, sê Bruce dankie vir al ons seëninge. Dadelik spring my gedagtes na daardie broodrooster, want ek was regtig dankbaar daarvoor. Na die tyd het ek so bietjie wakker gelê en dink. Het God my geseën met hierdie broodrooster? Was dit nou deel van God se groot plan – dat ons hierdie einste broodrooster moet besit? Hoekom word ons met hierdie broodrooster dan geseën, maar ander word geforseer om gewone brood te eet? Ja, ek het toe bietjie dramaties begin word daaroor, maar dis waar. Wanneer ek dankie sê vir God se seëninge, wil ek eintlik dankie sê vir my besittings? Dit was daardie aand waar ek met die konsep van Toaster Teologie vorendag gekom het, want waarlik, God se groot plan strek sekerlik verder as ontbyt.

Ek was ontsteld met myself en hoe oppervlakkig my dankbaarheid was. Ek was nie dankbaar vir die kere waar God my kom verras het in ʼn vreemdeling se glimlag, of die beker koffie wat my man met soveel omgee vir my in die bed gebring het, of vir die nuwe vriende wat ek gemaak het nie. Daar was soveel mooi dinge wat gebeur het in daardie tyd, maar selfs nou is al wat ek onthou die nuwe broodrooster en skepping van Toaster Teologie.

‘n Nuwe Tafelgebed

Dit is nie verkeerd om besittings te hê nie, maar dit voel vreemd om hulle as seëninge van God te sien. Hoe het God my dan regtig geseën? Miskien is dit tyd vir ʼn nuwe tafelgebed.

May the Lord make us truly thankful for the life before us. For all the times we noticed His presence, and especially for all the times we did not. Please bless the Almighty Hands that crafted this life, and bless the awareness to our bodies. Help us to help those who have forgotten to see the Lord’s blessings. Amen.

Luané McLachlan is ‘n leraar by NG Proteahoogte-Brackenfell en dien as Projek Koördineerder by #imagine. Sy geniet dit om te wonder oor God en sy skepping.