In Uncategorised

In Namakwaland het ek gou agtergekom dat hier ‘n ander, baie interessante “taal” is. Dit het my ‘n paar jaar geneem om self ‘n woordeskat op te bou of in elk geval gedeeltelik te verstaan wat gesê word. ‘n Man sal byvoorbeeld van sy eggenote praat as “die vrou”, nooit “my vrou” nie.

Ek was in die begin nogal bekommerd dat ek sal moet gaan gesels, tot ek agtergekom het dat “die vrou” ook ‘n troetelnaam kan wees in ‘n baie liefdevolle verhouding.

Behalwe natuurlik vir die ongepaste sêgoed, is daar veral een wat by my vasgehaak het en wat ek gereeld gebruik: “My woorde is nou op”. Ek het nou genoeg gepraat. Ek het niks meer om te sê nie.

Ek het agtergekom dat juis dít die beste plek is om te wees, woordeloos, want dit is wanneer ek nog ‘n laaste iets vra: “Hoe kan ek help?”

“Hoe kan ek help?” het my bediening verander. Wanneer ek die vraag vra, is my gesindheid anders. Wanneer iemand aan my deur kom klop in die middel van die nag en ek vra hierdie vraag, is my houding anders: #Diensbaar.

By Jesus leer ons baie van diensbaarheid. ‘n Goeie voorbeeld is altyd wanneer Jesus sy dissipels se voete was (Johannes 13). Ek verstaan uit Jesus se voorbeeld iets van nederigheid in diensbaarheid. Ek lees egter in Lukas 18 waar Jesus vir ‘n blinde man vra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Dít is vir my interessant! Jesus het mos geweet dat die blinde man se hartsbegeerte sou wees dat hy sou wou sien!

Ek dink dat Jesus wou gehad het die blinde man moes glo dat Jesus ‘n wonderwerk in sy lewe kon doen. En dit is wat Jesus gedoen het, die blinde man kon sien.

Al die woorde in die wêreld het nog nooit my lewe verander nie. Ek was siek en al die “kom kyk hoe dit gaan” het my niks gehelp nie. Wat wel gehelp het was ‘n vriend wat elke dag my baie besige Labrador kom haal het vir ‘n rondhardloop. Die tannie wat met haar kierie my wasgoed opgehang het toe ek te swak was om dit self te doen. Die mense wat verstaan het dat ek alleen die ekspert op my netelige situasie was en bereid was om te vra: “Hoe kan ek help?” het my lewe verander.

Jy kan ook diensbaar wees. Vra die vraag: “Hoe kan ek help?”

Mag jy verras word deurdat jy die wonderwerk is vir mense in onmoontlike situasies!

Nadine Maletzki

(Ek is al 7 jaar predikant in Namakwaland en leer nog elke dag nuwe woorde)