In Groepe

Die eerste van agt geleenthede vir vroue wat ons beplan in die Wes- en Suid-Kaap het op 12 November in Durbanville-Bergsig afgeskop en daar het ons saam met ander vroue God se hart vir vroue gehoor deur na sy Woord en mekaar te luister.

Vroue uit talle gemeentes het dit bygewoon en is na ‘n heerlike oggend met harte vol vreugde vir God en Vrouewees daar weg!

Ons doel was om vroue te help om te weet …
• dat hulle ‘n plek in hierdie lewe het;
• dat hulle gelyk langs ander mag staan;
• dat hulle mense het wat hulle lief het;
• dat hulle hul volle menswees kan omarm; en
• dat God besig is om hulle voor te berei vir iets groter as hulself.

Ons kon hoor wat op vroue se harte lê en ons kon saam met talle vroue hul geloofsreis stap.

Na ons weggetrek het met ‘n lekker verwelkoming, koffie, tee en vars skons, het die lofprysing en aanbidding, wat gelei is deur Andriëtte De la Harpe, ons siele gestig en dit het die grond goed voorberei vir ‘n vraelys en besprekings in kleingroepe.

Voor ons weer gebreek het vir tee en verversings het ds Ankia du Plooy die dames genooi om haar te vergesel op ‘n terugreis om die Vrouebediening van Toeka tot Nou te verduidelik.

Na die ligte middagete het Ankia ons voorgegaan in die geloofsreis, Vroue met Vlerke.

Dit was voorwaar ‘n wonderlike oggend saam waar God ons elkeen persoonlik kom verras het deur die diep werking van sy Heilige Gees in ons harte! Ons kon weggaan met ‘n nuwe ervaring van Hom as die God van liefde.

Ds. Mizelle Prinsloo van Durbanville Bergsig vertel so:
Saam het vrouens van verskillende gemeentes se Vrouebedieninge op Saterdag 12 Nov by Durbanville-Bergsig kom kuier. Die oggend het begin deur Ankia du Plooÿ wat ‘n kers aangesteek het om te bevestig dat God teenwoordig is en dat Hy die rede is hoekom elke vrou die oggend daar was. Andriette De la Harpe van IConnect het ons begelei in aanbidding waar ons saam die Here geloof en prys het. Die vrouens is gevra om herinneringe van hulle eie vrouebediening oor die jare met mekaar te deel. Hoogtepunte, laagte punte en mites van die verskillende vrouebedieninge is met mekaar gedeel. Saam het ons bevestig die vrouebediening is die hart van elke gemeente en hulle doel is om te dien, ondersteun en onvoorwaardelik lief te hê. Daar was geleentheid waar die vrouens op ‘n geloofsreis kon gaan. Elke vrou moes iemand kies wat sy nie ken nie, of die minste ken, en saam wandel in die Woord met ‘n spesifieke teks uit die lys van Bybelvroue. Tydens die geloofsreis het daar ook ‘n hele paar dames getuig van God se liefde, sorg en teenwoordigheid in hul lewens. Vrouens het tydens hierdie oggend die geleentheid gehad om saam met ander vrouens God se teenwoordigheid te kon ervaar. Hy gebruik voorwaar elke vrou net daar waar sy is vir Sy Koninkryk. Marelise Krige het die oggend uitstekend gereël en dit was ‘n voorreg om so saam met haar en ander vrouens te kon kuier.

Leave a Comment