In Individue

Ek sien dit aankom in my periferale visie `n sekonde voor die groot klip die kar tref.  Onmiddelik is ek woedend toe ek sien hoe die klein booswigte langs die pad staan en lag.  Die gedagte kom by my op om soos `n wafferse Chuck Norris met my dorpsmotortjie te 4×4 tot by hulle en die skuldige ene aan sy ore tot by sy ma te sleep, maar toe ek weer kyk, het hulle die hasepad gekies.  Omtrent `n uur later toe ek my bestemming bereik, is my hart bitter seer oor die skade aan my motor en my gemoed swaar en donker.  Ek was op die punt om `n voorstander te raak vir klippe-kap-tronkkampe vir al die onregverdige en wettelose mense daarbuite … tot ek sien hoe my kinders my dophou en inneem wat ek sê.

Jy sien, ons was net twee weke voor dit in Egipte (wat hoog op die lys van vervolgde lande lê en waar slegs 10% van die bevolking Christene is).  By INcontext International,  die bediening waar ek en my man werk, beywer ons span onsself om die Kerk in te lig van wat in die wêreld aangaan, sodat die Liggaam van Christus kan opstaan en beweeg waar daar nood en chaos is, want dit bring oop deure vir die Evangelie.  Hoe wonderlik is dit nie om `n pakkie kos by Siriese vlugtelinge af te laai en gegroet te word met “you Christians are the only people who really care for us” en dan die gesin `n week later te sien opdaag by `n kerkdiens nie!

Ons het al soveel waardevolle lesse by ons broers en susters in die Lydende, asook Vervolgde Kerk geleer en ons het die wonderlike geleentheid gehad om ons kinders vir die eerste keer bloot te stel aan die Midde-Ooste.  Ons het egter slegs in die land aangekom toe twee gekoördineerde bomontploffings by kerke in Tanta en Alexandrië die Christene ruk op Palmsondag (9 Apr 2017).  Ons harte was saam met ons vriende stukkend, veral ook toe ons hoor dat een van die Tanta-slagoffers, die predikant van daardie gemeente se seun is.  IS het aanspreeklikheid vir die 47 sterfgevalle en meer as 100 ernstige beseerdes aanvaar en het die Egiptiese Kerk gewaarsku dat dit nie die einde is nie.  Maar dan gebeur die wonderwerk: die nasionale TV-kanaal voer `n onderhoud met een van die ouers van `n Tanta-slagoffer, waarin sy sê: “I ask the Lord to forgive them and let them try to think.  May God forgive you and we also forgive you.  Believe me, I forgive you.”  Die verslaggewer (wat Riaan Cruywagen se gelyke in die land is) was net verstom en het totaal oorbluf op nasionale TV gesê: “Egyptian Christians are made of steel. How great is this amount of forgiveness you have? … I could never say this.  These people have so much forgiveness … these people are made from a different substance.”

Vyf dae later is ons kind-in-die-hand huiwerig oppad na die Goeie Vrydagdiens, asook die opstandingsdiens die Sondag.  Bewus van al die waarskuwings en dreigemente wat uitgereik is vir die naweek se kerkdienste, wonder ons wat die opkoms by die kerk gaan wees.  Ons staan egter verstom, want die kerk is tot oorlopens toe vol!  Ander plaaslike vriende stuur foto’s van hoe daar by hulle kerke moes stoele uitgedra word, want daar is nie genoeg sitplek vir almal binne die geboue nie.  Dié reaksie van Christene stuur ‘n boodskap na die ongelowiges hier wat sê: Christene is nie bang vir die dood nie; ons Christus is gekruisig en het wéér opgestaan; Christians are made from a different substance …

Oor die volgende paar dae ontmoet ons span met die predikant van die grootste Evangeliese Kerk in die Midde-Ooste, die hoof van SAT-7 in Egipte, die Bybelgenootskap in Egipte, the sekretaris van die Koptiese Kerk, die aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk in die Arabiese lande en `n ruk later ook die predikdant van Tanta en vir almal vra ons dieselfde vraag: hoe voel hulle oor die bomontploffings in die kerke?  (Let wel, dié bomontploffings is twee aanvalle uit honderde gemik op Christene die afgelope 6 jaar.)  Regdeur die bank kry ons dieselfde antwoord: “The message of the cross is the message of forgiveness and how can we show forgiveness if we’re not harmed?”

Skaam staan ek klip-in-die-hand voor my kinders, want alhoewel ek nie die klein klipgooier se gedrag goedkeur nie, besef ek ek sukkel om te vergewe.  Die boodskap wat ons so mooi aan die kinders probeer verduidelik het in Egipte terwyl dit daar uitgespeel het, kon ek `n paar dae later in Suid-Afrika nie mooi uitvoer nie.  Vir baie lank het ek die klip in my motor saamgery totdat hy `n plekkie in die tuin gekry het.

As ek sien hoe Christene se andersoortige gedrag ongelowiges in die Midde-Ooste, Asië en Afrika raak, dan raak ek opgewonde, want watter vraag is dan beter as: “vertel my meer van jou Jesus?”.  In dié tyd van Jesus, tussen GEKRUISIGwees en OPGEVAARhet, waar ons as dogters van Christus fokus op dit wat die ware Lewende God vir ons én die wêreld kom doen het, moet ons onthou: die boodskap van die kruis is die boodskap van vergifnis …

Surita Swanepoel