Vrouebedieninge lyk die afgelope paar jaar anders as in die verlede. Daar was ‘n tyd waar omtrent elke gemeente in die NG Kerk ‘n baie aktiewe Vrouebediening/Vrouediens gehad het. Dít is nie meer so nie. In baie gemeentes funksioneer vroue nou heeltemal geïntegreerd met die ander bedieninge van die gemeente. En daar word gesê dat ‘n Vrouebediening eintlik nie meer ‘n doel dien nie. As Vrouebediening, word ons dikwels gekonfronteer met die vraag: “Het ‘n Vrouebediening nog ‘n bestaansreg?”
Uit ‘n navorsingsverslag, gedoen deur die Universiteit van Stellenbosch in 2014, raak dit vir ons al hoe duideliker dat ‘n bediening deur en aan vroue wel nog bestaansreg het. Wanneer ons dit sê, praat ons nie van ‘n bediening waarvan die hoofdoel is om begrafnisbroodjies te maak of tee te skink nie, alhoewel dit ook moet gebeur; is dit nie die doel van die Vrouebediening nie. Ander bedieninge kan tog ook hiervoor verantwoordelikheid neem. Die bestaansreg vir ‘n Vrouebediening is daarin geleë dat vroue saam met mekaar en met God ‘n geloofsreis onderneem.
Dit is dan ook wat die navorsingsverslag ons vertel: vroue het ruimtes nodig waarin hulle met ander vroue kan saamkom om te “connect”. Hierdie ruimtes moet veilig genoeg wees, sodat vroue hulle stories met mekaar kan deel. En, veral in gemeentes waarin daar nog aktiewe vrouebedieninge is, is daar ‘n intense behoefte onder vroue aan geestelike leiding en rigting.
Daar is ‘n definitiewe skuif in Vrouebedieninge om ‘n volwaardige missionale* vennoot in ons kerk te wees waarin ons saam luister en hoor hoe God ons innooi, vorm en stuur in God se plan met ons en die wêreld.
*Algemene Sinode van die NG KERK 2013 : Uittreksels van die besluite
Missionale Aard en Roeping van die NG Kerk:
“Die verskuiwing van tradisionele na missionale kerkwees gaan onder meer oor: