In Individue

Tydens die verkiesing staan ek in die lang ry en luister van onder my sambreel na die gesprekke rondom my.  Later die middag lees ek weer `n tydskrifartikel by my ma waar bekendes sê waarop hul hoop vir ons land en daar sien ek swart op wit die woorde van dít wat so baie die afgelope paar weke gebeur het: “… versprei ek/ons wanhoop plaaslik”  Regtig?  Wanhoop?!  Sjoe, wonder ek, bly ons almal in die dieselfde land?

So, wat is hoop dan?

Volgens Wikipedia is hoop die onsekere verwagting dat ‘n bepaalde gewenste gebeurtenis sal plaasvind.  Gebeur dit nie, is die teenoorgesteldes (i)wanhoop (as die kans op die gewenste gebeurtenis skraal lyk) en (ii)vrees (as die verwagting ‘n ongewenste gebeurtenis betref).  Ek besef net weer dat hoop en wanhoop (of vrees) van daardie alles-of-niks konsepte is … jy kan nie `n bietjie van die een, of bietjies van altwee hê nie.  Jy het óf die een, óf die ander; en die een wat jy kies, dra jy soos parfuum saam met jou.

Bybelse hoop is egter iets héél anders!  Dis nié Wikipedia se ‘ek weet nie wat gaan gebeur nie, maar ek hoop dit gaan gebeur’ nie.  Dis ook nie `n fairy godmother-staffie waarmee ek God se arm (probeer) draai nie.  Nee, Christelike hoop is wanneer God belowe het dat iets gaan gebeur en jy sit al jou vertroue in daardie belofte.  Keer op keer, op keer (op keer, op keer!!!) is dit in die Bybel aangeteken dat hoop op God die beste opsie vir Sy kinders is.  Net soos in `n handboek, gee God eintlik vir ons die twee scenarios: wat gebeur met die hoopvolles én wat gebeur met die wanhopiges.  Ons moet net reg kies!

As alles dan nou rondom jou wanhopig lyk en jou vol vrees laat, hoe fokus jy weer jou hoop op God?

Hoe vertrou jy weer God se beloftes?

Ek dink dit gaan oor jou perspektief … fokus jy op die wêreld rondom jou, of fokus jy op God se wêreld?  Hier is `n mooi voorbeeld: Ons was eenkeer in Eilat, Israel, en soos ek na die Rooi See kyk en myself probeer voorstel hoe die Israeliete moes beweeg het, was ek heimlik dankbaar dat ek nie deel van die trekgeselskap was nie.  O liewe land, ek sou gemor en kla het!  Dis so droog en vol van … niks!  Regs van my lê Egipte se Sinai-woestyn, voor my die vale Saudi-Arabië en net links van dit Jordanië se vaalrooi Wadi Rum en links en skuins agter my Israel se Negev-woestyn.  MAAR, sit jy jou swembril op en sak in die Rooi See in, sien jy een van die pragtigste see-tonele in die wêreld!  Die kombinasie van kleure, visse en ander see-goeters is onbeskryflik – en jy hoef nie eers te skuba nie, jy kan net koponderstebo in die water kyk!

Is dit nie ook so in ons lewens nie?  Soms lyk ons omstandighede baie vaal en droog, asof daar geen teken van lewe is nie, net dorre woestyn en `n klomp stofstorms, maar sak ons net bietjie af en verander ons ons perspektief en kyk deur God se oë, dan sien ons kleur en lewe en beweging wat jy nie gedink het bestaan nie.  God is in beheer, Hy het gesê Hy sorg vir sy kinders … is jou hoop op dít?

Wag, voor jy dink my lewe is perfek: nee, ek het óók woestyne, maar as ek my Bybel lees het ek hoop, want ek sien God eer dié wat op Hom vertrou.   As ek (koponderstebo) rondom my kyk, staan ek verstom oor die baie ‘lewe onder die water’.  Ek het hoop, want 4 jaar gelede het Hy ons gesin geroep om voltyds in die bediening in te gaan, sonder `n salaris.  Hy het vir ons vanuit Johannes 21 beloof: I will prepare your breakfast.  Ons staan nog élke liewe maand verstom oor hoe Hy dit doen én dat ons ook kan uitdeel, want daar was altyd nog ‘twaalf mandjies’ oor.  Ek het hoop, want twee huise van ons af, maak `n vrou haar hart oop (en offer haar eie gemak op) en neem baie ander se getraumatiseerde weggooi-kinders in en raak hulle ma. Ek het hoop, want ons dierbare skoonmaak-ma sê sy wil ook iets opoffer vir die Kerk in die Midde-Ooste vanuit haar werk-net-driekeer-per-week salaris.  Ag, daar is so baie om te deel van wat ek (koponderstebo) sien hier by my, rondom my en ook daar ver … God is getrou!

As daar ‘gif-slange’ in jou wildernis is soos met Moses, kyk op na Jesus en wees vol hoop; as daar ‘honderde duisende vyande’ rondom jou laer trek, sit jou hoop op God soos koning Hiskia en jý hoef nie eers `n vinger te lig nie.  As jy ‘vasgeketting in die tronk’ sit, hoop op God soos Paulus en die deure sal vanself oopgaan; as jy soos Petrus ‘uit `n boot moet klim’, sit jou hoop op God, dan loop jy op die water!

Die Bybel, ander baie slimmer mense se kommentaar en praktiese ervaring, wys vir my in my eie lewe dat as ek nie vol hoop is nie, ek my vasloop in `n verlammende angs, `n verterende strewe na in-beheer wees en `n abnormale selfbehoud.  Kom, laat ons ons nie vasstaar in ons omstandighede nie, maar laat ons anders wees, laat ons die wêreld wys ons dra God se beloftes binne ons én ons hoop op dit … laat ons #HOOPVOLwees!

Ps 42:6 “Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld?

Nee, ek plaas my hoop op God!”

Surita Swanepoel