In Individue

Erfenis… wat is ‘n erfenis?

Die woordeboek definieer erfenis as “die gebruik om eiendom, titels, skuld, regte en verpligtinge oor te dra na die dood van ‘n individu”. Geen wonder die woord was tot baie onlangs toe maar vir my ‘n onemosionele eendag-woord…iets abstrak wat in die toekoms lê en waaroor ek nie te veel gedink het nie…

Dit het egter alles verander op 25 Mei 2018 met die geboorte van ons jongste klein babaseuntjie – Ivan.

Na 4 biologiese kinders en ‘n baie alleen infertilitietspad van 4 jaar (ja…dit is steeds moeilik al het jy reeds kinders van jou eie) het PappaGod dit kom duidelik maak dat Hy die leë plek in ons harte wou kom volmaak met ‘n aanneem-seuntjie!!!! En saam met dit het Hy ‘n enorme stuk van Sy hart vir ons kom oopsluit…

God praat baie van aanneming in die Woord en ook gereeld van ons as erfgename. Maar as ek eerlik moet wees was baie van dit maar vir my ook eendag-woorde… ‘n Mens weet nie hoe dit gaan wees wanneer jy ‘n baba aanneem nie. Jy weet nie of hy soos joune gaan voel en of die verskille die heeltyd na jou toe gaan uitskree nie. Dis ‘n geloofstap…

En nou – 4 maande later? Wat beteken dit vandág vir Ivan om deur ons gesin aangeneem te wees? Om ‘n De Kock erfgenaam te weees? Skielik het ek besef dat erfenis vir Ivan glad nie ‘n eendag-woord is nie…
Vir klein Ivan beteken erfenis vandág om ‘n gesin te hê…’n plekkie waar hy hoort en behoort.

Dis vandág ‘n ousus wat gereeld uitwys na wie se babafotos hy die meeste lyk en met die ander ousus stry oor wie hom eerste moet vashou… Dis vandág ‘n kleinsus wat opgewonde is omdat iemand in die gesin uiteintlik dieselfde kleur ogies en vel as sy het. Dis vandág ‘n ouboet wat trots saggies in sy oor fluister (wanneer hy dink niemand hoor nie) “brothers for life”… Dis vandág ‘n pappa wat visvangstories gesels en rugby-“tackles” maak al is hy nog net vier maande oud… Dis vannág ‘n mamma wat hom lang ure vashou omdat die refluks sy keeltjie brand en sy wens sy kon dit vir hom beter maak…

Vir klein Ivan is erfenis 6 mense wie se hele wêreld nou om hom draai, 6 mense wat elke klein deeltjie van sy ontwikkeling vier en wat heeltyd oor hom praat. Dis 6 mense wat nooit twyfel of hy daar moes gewees het nie, of hy ons s’n is en of ons ‘n fout gemaak het nie. Dis 6 mense wat die moeilike tye vinnig vergeet en wat uitsien na elke volgende fase, elke vakansie en Kersfees en “eerstes” wat ons nog met hom gaan deel!

Maar meer nog… dis oupas wat breëbors loop en oumas wat elke dag fotos wil hê om te sien hoe groot hy word… dis maatjies en vriende wat hom liefhet asof hy nog altyd bedoel was om deel van ons te wees en wat trane in hulle oë kry as ons praat oor hoe getrou die Here is. Vir Ivan is erfenis ‘n groot sirkel van liefde wat die hele tyd vir hom bevestig: Ons het vir jou gewag. Jy behoort. Jy is deel van ons. Jy is kosbaar.

Sjoe, en dan wonder ek of dit is wat ons God bedoel wanneer Hy praat van erfgename en erfenis… Is Hy regtig so opgewonde oor my, Sy aangenome kind, soos wat ons oor Ivan is? Kyk Hy ook my foute vandág mis en soek vir die klein stukkies van my wat soos Hy lyk? Raak Hy opgewonde oor elke nuwe seisoen in my lewe? Is my erfdeel dan nie om vandág te weet ek behoort – ek is Syne, nie… En diep binne weet ek dit is waar…

“For it was always in His perfect plan to adopt us as his delightful children… And His unfolding plan brings Him great pleasure!” Ephesians 1:5-6 TPT