In Uncategorised

Onlangs het ek ’n epos gekry van ’n man wat gevra het of hy die priester van sy gesin moet wees. Sy familie het daarop aangedring, maar hy was ongemaklik daarmee. Daar is Christene wat aan die man in die huis ’n priesterrol toeskryf. Tog kry ons dit nêrens in die Bybel nie. Wel dat almal geroep is om priester te wees. En oor daardie besonderse roeping is baie te sê.

Israel as die priestervolk

In 1 Petrus 2:9 staan daar: ‘Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig’.

Petrus verwys na Eksodus 19:6 waar die Here amper dieselfde woorde gebruik. Die hele volk moet toegewy wees aan God, as voorbeeld vir ander volke.

Ongelukkig het die volk vinnig gewys dat hulle nie heilig kan lewe nie. Na die sonde met die goue kalf het God net mans uit die stam van Levi gekies om die taak van priester op hulle te neem. Daardie priesters was verantwoordelik vir alles wat in die tempel gebeur het. Die een het die erediens gereël, die ander die musiek, finansies, offers en die kos (1 Kor. 23). Priesters was vir die gemeente (nie vir die gesin nie) ’n middelaar tussen God en mens.

Tog het geblyk dat ook die Leviete die verhouding tussen God en mense nie kon herstel nie. Daar was ’n hoërpriester nodig wat 100% heilig was.

Die gemeente as nuwe priestervolk

Die offer van die hoë priester Jesus het alles verander. Deur Sy versoeningsdood was nie net die hele Israel nie, maar almal wat in Hom glo, heilig verklaar. Dit is die rede waarom Petrus die gemeente die uitverkore geslag, ’n koninkryk van priesters, noem. Almal: Griek, Jood, swart, blank, man of vrou is priester in God se ryk. Soos God dit van die begin af al bedoel het.

Maar wat beteken dit vir ons? Het ons dieselfde take? Ons hoef nie meer offers te bring soos die Leviete in die Ou Testament nie. Maar tog sê Petrus dat ons onsself moet gee as ’n heilige offer (Rom. 12:1,2). Dit gaan oor jou hele lewe; jou tyd, geld en liefde.

Baie keer dink ons dat die Sondageredienste of die leraar ons iets moet gee, maar aangesien jy self priester is, gaan dit eerder oor wat jy kan bied, nie net in die kerk nie, ook in jou gesin en in die wêreld daarbuite.

Saam as mans en vroue

Hoekom was daar nie vrouepriesters in die ou Testament nie? Ons het nie ’n duidelike antwoord nie, maar waarskynlik omdat hulle meer reinheidswette gehad het en om daardie rede was dit moeilik om as priester te dien. Maar die belangrikste is dat ons nou almal saam deel uitmaak van die priestervolk. Soos die beeld van Christus se liggaam wys dat niemand van ons kan ontbreek nie, so geld dit ook vir die koninkryk van priesters. Dit gaan nie oor individue nie, maar oor die gemeenskap. Soos God dit al aan die begin van die skepping bedoel het toe hy man en vrou geskep het om saam te werk (Gen. 1:26-28). Al het almal ’n verskillende taak, het ons dieselfde roeping.

Juis in ons tyd is dit nodig dat ons ons priesterlike roeping mooi verstaan en uitleef. In gasvryheid na vreemdelinge toe, na mense wat verontreg word. Om ’n stem te gee aan die wat nie ’n stem het nie. Om heilig te lewe en die goeie voorbeeld te stel. Om te breek met rassisme, seksisme en al die ander ‘ismes’ wat maak dat ons ander mense nie erken in hulle priesterrol nie. Kortom, dit is ’n groot uitdaging om jou roeping as priester in Suid-Afrika uit te leef!

Dr. Almatine Leene (1984) het ’n groot passie vir teologie. Sy is predikant in die NG Kerk Stellenbosch-Wes, skryf boeke en gee klas in Nederland. Almatine is getroud met Frederik en ma van Sebastiaan.