Taakspan

  • Ankia du Plooÿ
    Ankia du Plooÿ

    Ankia du Plooÿ is getroud met Dolf en hulle woon in Stellenbosch. Ankia is tans die Uitvoerende Bestuurder van die Vrouebediening: Wes-Kaapland en doen ook navorsingswerk by die Eenheid van Innovasie en Transformasie by Ekklesia Universiteit Stellenbosch. Ankia is passievol oor die bemagtiging van vroue en voel uiters bevoorreg om saam met die vroue van Wes-Kaapland ‘n geloofsreis te kan onderneem.

  • Gielie Loubser
    Gielie Loubser

    Gielie Loubser, is ‘n predikant werkend by die sinode met opdrag Gemeente begeleiding. Hy is getroud met Marié, ’n graad 1 onderwyseres. Hulle het drie seuns: 16, 14 en 11. Gielie verteenwoordig die diensgroep op die taakspan en dra weer die vroue se saak terug na die sinode. Volgens hom begin alle diskriminasie by geslags-diskriminasie en daarom is die werk van die taakspan vir vrouebediening so belangrik.

  • Mariëtte Steyn
    Mariëtte Steyn

    Mariëtte Steyn is redakteur van ons Interaksie. Na jare in die Onderwys, het sy haar eie besigheid, Design A Print, begin en hulle werk hoofsaaklik met skole en kerke. Sy’s byna 44 jaar getroud met Jurg Steyn, ‘n Finansiële adviseur en Beleggingskonsultant. Hy is saam met hul oudste seun, Johann in ‘n Sanlam Blouster-besigheid. Johann is getroud met Alicia – die mamma van drie pragtige kleinkinders, Tiaan, Francois en Lisa. Haar tweede seun, Hennie is getroud met Cristelle en hulle het 1 kleinding, Lily. Mariëtte sê van alles wat sy in die lewe al gedoen het, is ouma-wees die heel lekkerste. Sy geniet veral die drie wat naby bly. Sy en Jurg woon in Durbanville maar het ook ‘n strandplek in Onrus waarheen hulle elke tweede naweek “vlug”. Hulle is mal oor die Overberg en geniet hul tye daar, alhoewel aftrede daar nog nie in die beplanning is nie. Mariëtte sê solank haar kleinkinders nog klein is en Ouma nog belangrik, gaan sy nêrens aftree nie.

  • Sanet van Rooyen
    Sanet van Rooyen

    Sanet van Rooyen is al 25 jaar met prof Dirk van Rooyen getroud en hul gesamentlike familie bestaan uit drie seuns en ‘n dogter. Al vier is reeds getroud en sy en Dirk het altesaam 10 kleinkinders, sewe seuntjies en drie dogtertjies. Sanet kom oorspronklik van Pretoria af, maar woon die afgelope 20 jaar in Plettenbergbaai. Sy is ‘n onderwyseres van beroep en vir die afgelope 12 jaar betrokke by Bitou Opleiding en Onderrig. Dis ‘n projek waar dames opgelei word om huishulpe te wees. Haar belangstellings lê in musiek en blommerangskikking. Tans dien sy op die kerkraad van die Suiderkruis gemeente in Plettenbergbaai, is lid van die musiekbediening en in beheer van die klank- en digitale aanbieding. In haar eie woorde sê Sanet: “Vrouebediening lê my na aan die hart en ek was ook voorsitter van die Vrouediens.”

  • Riana Furniss
    Riana Furniss

    Ek woon op Tulbagh vir die afgelope 27 jaar, maar is egter ‘n gebore Vrystater uit die Theunissen-distrik. My Hoërskoolloopbaan het ek aan Oranje Meisieskool gedoen voordat ek op Hugenote Kollege Wellington gekwalifiseer het as maatskaplike werkster. Daarna was ek eers weer Vrystater (Bloemfontein en Odendaalsrus) en Transvaler (Klerksdorp en Stilfontein) voordat ek ‘n Bolander geword het. Ek is getroud met Robin. Ons het op HK ontmoet. Ons het twee pragtige seuns, of liewer jongmanne. Frank is 36 en Claude 32. Twee jaar gelede het ek ook ‘n pragtige skoondogter ryker geword, Simone. Sy is getroud met Claude. Robin en ek werk die afgelope 27 jaar by Steinthal Kinderhuis op TULBAGH. Daar word 150 kinders versorg wat nie ander heenkome het nie. Robin is die kinderhuisbestuurder en ek een van die maatskaplike werksters. My passie is musiek. Ek speel klavier en sing so dikwels as moontlik. My ander liefde is vroue. Ek wil vroue help om hul volle potensiaal te bereik en weer heel te word.

  • Marelise Krige
    Marelise Krige

    Marelise Krige is getroud met Willem. Sy is ‘n tuisbly mamma vir haar drie rooikopkinders en is terselfdertyd betrokke by Durbanville Bergsig Gemeente. Sy skryf: “Saam met die res van ons gemeente se Vrouebedieningspan het ek die afgelope paar jaar beleef hoe God vroue aanmekaar verbind en hoe vroue mekaar kan vashou en oplig. Om die waarde van elke mens raak te sien en te sien hoe mense hul roeping ontdek en daarin begin leef, maak my ongelooflik opgewonde. Ek vertrou dat Hy my verder sal toerus vir hierdie nuwe opwindende reis saam met die Vrouebediening van Wes-Kaapland.”

  • Theresea Pieterse
    Theresea Pieterse

    Theresea Pieterse woon sedert Desember 2015 in George. Sy is getroud met André en hulle het twee kinders. Hulle dogtertjie, Theandri, is sewe en seuntjie, André jnr, drie jaar oud. Haar man is beroep na George Moedergemeente, nadat hulle vir veertien jaar in Brits by NG Krokodilrivier was. Hulle is gebore Vrystaters, en sy was aanvanklik in ‘n Finansiële Landbourigting. Theresea is bevoorreg om tans voltyds ma te wees, en dan ook die Vrouebediening in hulle gemeente te bestuur. Saam met ‘n uiters dinamiese jong groep dames, droom en dink hulle oor God se plan vir hulle gemeente en gemeenskap. Theresea sê: “Ek glo dat die lewe ‘n reis is, en dat ek saam met God en my gesin uitsien na die reis op hierdie nuwe pad!”