In Groepe

“Dis al ‘n hele rukkie wat ek vir die Here vra wat ek vir Hom kan doen end at Hy asseblief vir my moet wys, maar ek kry nie ‘n antwoord nie. Ek het nog altyd ‘n sagte plekkie vir die Vrouediens gehad, en toe ek hoor/lees van die konferensie/byeenkoms, en dis letterlik ‘n klipgooi van my af, besluit ek om te gaan. Soos wat die oggend verloop en ek duidelikheid kry oor “die nuwe aanslag” van die Vrouediens, begin ek opgewonde raak. Verskeie fasette is uitgelig, maar een aspek wat vir my uitgestaan het, is dat daar op ‘n gereelde grondslag, bv. 1x per maand, inligting oor die Vrouediens deurgegee moet word aan die gemeente/vrouens, en dat mense sodoende ook meer sal begin belangstel.

Ek het net bewus geraak daarvan dat dít my werkie gaan wees – en hier is die antwoord op my gebed! Ek kan nie wag dat die huidige bestuur/komitee bymekaar moet kom nie, sodat hierdie dinge in plek kan kom. Ek het na die byeenkoms gegaan – en ek glo nie dit was ek wat sommer self so besluit het nie – en ek het daar my antwoord gekry.”
Helena van Langebaan

“Dit was n lieflike oggend saam met mede Christenvriendinne! Die wonderlike, rustige manier waarop dit aangebied is, het van dit n besonderse geleentheid gemaak! Die lofprysing vooraf het diep geraak en dit was heerlik om saam met n wonderlike begeleier die Here te kon loof! Die saamkuier met die VVV het die oggend op n hoë noot afgesluit! Baie dankie vir puik reelings!”
Marie van Koringberg

“Dit was ‘n unieke oggend saam met gelowige vroue. Die manier waarop Anika dit gelei het, het veroorsaak dat ‘n mens nie anders kon as om oop te maak nie. Dit het my net laat besef ons almal sit maar met dieselfde jakkalsies en dat ons moet dankbaar wees vir wat ons het. Die “Vriendelike Vreemdeling Geselstyd” was vir my ‘n wonderlike belewenis. Ek maak nie maklik oop nie, maar teenoor my “vreemdeling” kon ek nie anders as om oop te maak nie, want daar was soveel raakpunte. Die tyd was te kort. Ek dink ek het ‘n nuwe vriendin bygekry. Vrouediens het ook weer vir my ‘n nuwe betekenis gekry en daar is goed wat ons definitief by ons gaan probeer.”
Marié, Eendekuil

“Baie dankie vir die wonderlike geleentheid om deel te kon wees van die Vrouebediening. Dit was ‘n baie leersame oggend. Dit het geleentheid geskep vir vroue om weer mekaar te ontdek, saam te bid en hartlik te kon gesels. My opregte dank aan die organiseerders en ‘n spesiale woord van dank aan Ds. Ankia. Sy het dit vir ons moontlik gemaak om dinge weer uit ‘n ander oogpunt te sien. Dames, kom ons bou aan dit waarmee daar begin is. Laat ons vashou aan die volgende: Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie.”
Langebaanweggemeente.