In Uncategorised

deur Melanie Thirion

Jy weet jy is ‘n ma as die beplanning vir ‘n kinderlose aandjie uit meer reëlings en voorbereiding verg as wat jou eie troue behels het. Of as jy gereeld die slagoffer van stort-skitsofrenie is: die konstante oortuiging dat jy jou kind hoor huil en wanneer jy dan die stortdeur ooppluk, is dit tjoepstil. Jy weet jy is ‘n ma wanneer jy binne die kwessie van dae ‘n kenner op die gebied van doek-inhoud geword het, of as jy saam met Paw Patrol se temalied kan harmoniseer. Jy weet jy is ‘n ma wanneer jy ‘n Pinterest-bord genaamd “Skooltake” het en ook die Eistedfodd-beoordeelaars op Facebook uitgekyk het. Jy weet jy is ‘n ma as jy die pyn ken van ‘n Lego-blokkie wat in jou voetsool geëts is of as daar geweier word om jou feesmaal te eet omdat die rys en die groente aan mekaar raak.

Jy weet jy is ‘n ma as jy daagliks goed moet doen en keuses moet maak sonder enige waarborg dat jy die regte ding doen. Jy weet jy is ‘n ma as jy al trane moes afdroog, terwyl jou eie oë vol trane was. Jy weet jy is ‘n ma as jou hart ‘n klop mis en jou bloed ys wanneer jy nie jou kind kan raaksien in die winkel nie. Jy weet jy is ‘n ma wanneer jy wens jy kon die eksamen gaan skryf in jou kind se plek.

Ma-wees, op watter wyse ookal, behels om elke dag iemand anders se geluk en behoeftes bo jou eie te stel. Dit herinner my aan Paulus se brief aan die gemeente van Filippi – die eerste gemeente wat in Europa tot stand gekom het nadat Lidia tot bekering gekom het. In hoofstuk 2:5-11 herinner Paulus die gemeente dat Jesus se mensword, die opgee van sy plek saam met die Gees en Vader om ‘n mens-baba te word, ‘n groot opoffering was. Die opoffering kry nog meer gewig wanneer mens besef Jesus het mens geword met die wete dat Hy sou sterf. Die effek van Christus se opoffering het die geskiedenis en toekoms van die mensdom verander – dat elke knie sal buig en tong sal bely dat Jesus die Here is.

Elke opoffering wat ‘n ma maak, of dit nou jou warm bed is vir ‘n huilende kind en of jou laaste sente is vir ‘n skooltoer, getuig van Christus se opoffering en sy liefde vir ons as mense. Dus is die grootste opoffering wat ‘n ma kan maak om haar eie lewe af te lê en ‘n dissipel van Jesus te wees.

Een van die grootste uitdagings vir ma’s is tyd. So hoe vind ons tyd vir Jesus tussendeur koor-oefening en vrot verkoues, jou eie werk en wiskunde-toetse? Hier is ‘n paar idees:

  1. Bid voordat jy jou oë soggens oopmaak – dan is dit nog stil in die huis. Dit hoef nie ‘n lang gebed te wees, dalk net ‘n blote “Here, doen U wil met my vandag”.
  2. Laai die Bybel op jou selfoon – en stel die ‘notification’ om jou elke dag vyf minute voor die skool uitkom, aan die teksgedeelte van die dag te herinner. Die kans is goed dat jy dan in die motor voor die skool wag en die teks gou kan lees.
  3. Lees dieselfde teksgedeelte vir ‘n week lank – om dieselfde teksgedeelte elke dag te lees, help jou om die teks te memoriseer en gee ook geleentheid vir die Gees om die teksgedeelte in jou te laat sak en met jou te werk.
  4. Sien Jesus deur jou kinders se oë – kinders het die vermoë om God op ‘n vars manier te beleef. Lees vir jou kinders die teksgedeelte en vra vir hulle hoe hulle dit verstaan.
  5. Sien Jesus raak in die allerdaagse dinge – wees sensitief vir die Gees se werk in die allerdaagse goed wat jy doen. Wie is die mense met wie die Gees jou in kontak bring, hoe kan jy hulle dien? Deur al die berge wasgoed en skottelgoed, vra vir jouself hoe kan jy jou dank bewys vir klere om te dra en kos om te eet?

En daai dae waar almal in die huis vir mekaar kwaad is, die geyser gebars het en jou baas nie jou verlof goedgekeur het nie, haal ‘n slag diep asem en trek ‘n kruis in jou handpalm en onthou die opoffering wat Jesus vir jou gemaak het. Jy is ‘n goeie ma.

Melanie Thirion is ‘n volger van Christus wat altyd op die uitkyk is vir die skoonheid van die lewe. Sy bedien al vir meer as 10 jaar in die NG Kerk, eers in jeugbediening en het onlangs geskuif na uitreik en vennootskap-bediening toe. Melanie is ‘n eggenoot en ook ‘n ma, wat ook soms oorweldig word deur die druk wat voltyds werk en ma-wees bring. Daar het Christus se liefde en genade haar al geleer: wees sag met jouself en almal om jou.