In Individue

Ek het my 2 meisies gevra om hierdie maand saam met my vir ons iets te skryf oor #JONKwees. Marlé is amper 15 en Alida 12. Hier is hul gedagtes:

Marlé

Ek dink daar is defnitief ‘n paar negatiewe dinge van jonkwees, maar ek glo dat jy eerder moet fokus op die positiewe dinge van jou lewe. Dink so daaraan: as jy nog jonk is kan jy nog ouers hê wat vir jou voorsien en mense wat jou lief het. As kind hoef jy ook nooit self vriende te maak nie. Jou ma stel jou aan al haar vriendinne se kinders voor. Wanneer jy uit die huis uit trek gaan jy jouself aan die wêreld moet voorstel en jou eie keuses moet maak.

Die gedagte om eendag uit die huis uit te trek is nogal scary, maar ek dink ek sal okay wees. Ek weet ek gaan nie alleen wees nie, want God sê 365 keer (vir elke dag van die jaar) in die Bybel dat ek nie moet bang wees nie. Mens moet jou jonkwees geniet. Jy kry net een kans en dan is dit tyd vir grootword.

Alida

Ek is nou in Graad 6. Toe ek klein was het ek gedink, as ek net kan skool toe gaan, dan is ek ‘n groot kind. Nou is al wat ek dink, as ek net weer klein kan wees, dan sal alles makliker wees. Toe ek nog klein was, het ek gedink die lewe is ‘n droomland (ek het uitgevind dit is nie waar nie). Ten minste het ek ook uit gevind dat ek ‘n verskil kan maak deur die regte keuses te maak, ‘n glimlag op my gesig en ‘n goeie hart te hê. Ek kan ‘n nuwe maatjie by die skool laat welkom voel en ek kan bid vir mense wat swaarkry. Ek weet dit sal makliker wees om weer klein te wees, maar einlik is dit ook lekker om groot te word. Ek wil avonture hê, die natuur geniet, die lewe aanpak en dit ‘n beter plek maak!

Marelise

Ek geniet elke fase van my kinders se grootwordjare. Om saam met hulle die lekker en sleg van hul grootwordpad te stap is só ‘n groot voorreg.

Ek onthou nog helder oomblikke van toe ek hulle ouderdom was en kan nie dink dat dit so lank terug was nie. Eintlik voel ek self nog só jonk en dan tref dit my elke keer onkant wanneer ‘n student my tannie noem. Ek wil skoon verontwaardig uitskree: “Lyk ek vir jou na ‘n tannie!?”

Dan besef ek ek het tieners in my huis, ‘n nuwe grys haar skok my nie meer nie en ek kan nie meer sommer net op ‘n fiets spring of perdry sonder dat ek na die tyd regtig oud voel nie….

Maar, ek dink jonkwees hoef nie net aan ouderdom gekoppel te wees nie. Jonkwees beteken vir my ook leerbaar wees, passievol wees, oop wees vir nuwe idees en ervarings, positief wees en vol hoop vir die toekoms.

Wanneer dinge regtig hopeloos lyk en ek gekonfronteer word met die stukkend ín en rondom my, is daar altyd die kruis. Is daar hoop! Is daar Jesus! Hy is vir ewig JONK en Hy is die Een wat my jonk hou, al raak my liggaam oud. So ja, ek is seker maar ‘n tannie, maar ‘n tannie wat aan die binnekant 21 voel! Ek wil nog berge uitklim en met mý goeie keuses en ‘n positiewe gesindheid ‘n verskil maak waar ek kan, sodat ander ook saam met my kan JONK bly – vir ewig JONK bly!