In Individue

Om ‘n mens se storie te deel, moet ‘n mens gaan sit en woorde kry vir alles wat jy al gevoel en ervaar het. En ons almal weet, sodra jy dit in woorde neerskryf word dit rêrig en moet jy jou tekortkominge vierkantig in die oë kyk.

Maar dis juis dan, wanneer jy skaam en onvolmaak en baie kaal staan, dat God se vaderhart, goedheid en genade ook rêrig word.

Ek is ‘n immer-positiewe optimis wat glo dat jy elke talent en gawe wat jy ontvang het tot maksimaal moet benut en aanwend. As jy ‘n verskil wil sien, laat dit gebeur. As jy ‘n geleentheid kry, gryp dit met beide hande aan en ry die golf tot jy op die droë sand lê. Lewe voluit, doen alles wat jy kan!
Hierdie lewensfilosofie is uitstekend as dit gepaard gaan met prioritisering, tydsbeplanning, organisering en ‘n stukkie gesonde oordeel om te weet wanneer om “nee” te sê.

Ek was egter besig om agter nog opwindende moontlikhede aan te hardloop toe laasgenoemde vaardighede uitgedeel is. Dus het ek myself sowat ‘n jaar terug in ‘n situasie bevind waar ek my talente en gawes uitstekend aangewend het, maar gevoel het soos ‘n insek wat in ‘n spinnekopweb vasgedraai is. Die skedule was so druk dat die eenvoudigste afwyking ‘n ongelooflike stresvolle krisis was. En met ‘n man en drie kinders is hierdie afwykings eintlik eerder die reël as die uitsondering.

Te veel kanse om ‘n verskil te maak

Ek wou as onderwyser elke moontlike kans gebruik om ‘n verskil te maak, om dinge beter te doen. My gesin moes dikwels agter in die ry staan na die skoolkamp, kooroefening en komiteevergadering.  Wonder bo wonder het ek uitstekend funksioneer, maar wanneer dit stil raak om my kon ek die paniek in my voel opborrel.

As ons Sondagoggend in die kerk gesing het van die Here se arms wat oopstaan en wag vir my om in te hardloop, het ek sommer tranerig geraak by die gedagte. Dit was te veel, te gejaag, te druk. Psalm 23 het vir my ‘n desperate hulpkreet geword eerder as ‘n rustige oordenking – soos ‘n klein kindjie wat êrens in ‘n bondeltjie sit en oor en oor vir haarself sê: “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie”, sodat die klank daarvan in haar ore haar kan oortuig dat dit die waarheid is. In die kar oppad het ek in ‘n bewerige stemmetjie saam met Joe Niemand gesing: “Ek sal nieeeeeeeeeee bang wees nieeeeeeeeee!”, want ek was doodbang. Ek was bang dat ek die balle gaan laat val en dat almal dan sal sien dat ek eintlik glad nie so in beheer is soos ek voorgee om te wees nie, dat ek nie alles so goed kan hanteer soos ek graag sou wou voorgee nie.

Eindelik moes ek op my knieë in my kamer vir die Here sê: Ek kan nie meer nie en ek weet ook nie hoe om hierdie situasie te verander nie. As ek alles net los, laat ek ‘n klomp mense in die steek. Here, asseblief, doen IETS!

Toe doen die Here iets

Nou ja, binne die volgende week, doen die Here toe iets! Ek en my man het in die Kaap grootgeword en getrou en‘n jaar na ons eerste kind gebore is na Pretoria verhuis. Ons families woon in die Kaap, maar met werksgeleenthede wat baie meer volop in Gauteng is en huise wat baie duurder in die Kaap is, het ons geweet dit sal ‘n wonderwerk kos om ons weer terug in die Kaap te kry. Onverwags gebeur daar egter‘n paar skuiwe binne die maatskappy waar my man werk en ons kry die geleentheid om sommer binne die volgende maand Kaap toe trek.

Ek staan verstom. Ek kan al my balle oorgee aan ander mense. Ek kan weer besluit of ek voltyds wil skoolhou en of ek dalk net deeltyds wil klasgee. Ons huis verkoop binne 4 weke en ons kry binne ‘n dag ‘n geskikte huurhuis. Ons kinders skuif na die eerste kwartaal na nuwe skole en pas vinnig en maklik aan. Nuwe vriendinne kom oor my pad en dra my deur die aanpassing van ‘n nuwe omgewing en nuwe ritme. Ons kuier naweke saam met Oupa en Ouma en nefies en niggies. Ek het skielik tyd om na my kinders se stories te luister en langs die veld te staan met hul wedstryde. Ons koop ‘n droomhuis in ‘n droomwoonbuurt. Ver meer as wat ek ooit kon bid of dink.

As ek terugkyk oor my baie gewone, oninteressante storie is dit die baie ongewone, verrassende manier waarop die Here my, net soos ek is, in die situasie waarin ek my bevind, op sy skoot kom tel, wat my bybly.

Ek wil steeds agter alles aan hardloop wat opwindend lyk, ek wil steeds voel dat ek ‘n verskil maak, ek wil steeds dinge om my beter laat werk. Maar ek weet nou: ver meer as wat ek kan bid of dink as ek die Here toelaat om Sy wil in my lewe te doen. En terwyl ek wag om Sy stem te hoor, kyk ek solank op na die berge en weet waar my hulp vandaan kom.