In Individue

Het jy al ooit tussen ‘n klomp vrouens gestaan wat iets saam doen, iets saam geniet?

‘n Mens hoor elke nou en dan van iemand wat saamgenooi word om die een of ander mooi ding te kom bekyk of ‘n lekker ding te kom proe.

Ons “oe” en “aahhh” saam oor wat ons geniet. Ons wil altyd die “lekker” met mekaar deel en dis hoekom ek vandag hierdie lekker gevoel van “geliefd” wees met julle wil kom deel.

  • My vrouwees was van kleintyd af vir my ‘n las, ‘n seerkry en ‘n swaarkry.
  • Ek het op ‘n jong ouderdom die dood leer ken met die afsterwe van my pa.
  • Ek het geleer wat molestering beteken en hoe dit voel om aan “getimmer” te word wanneer ‘n huwelik “the next best thing to do” was.
  • Ek het geleer wat dit is om vrede te maak met die dood, wanneer ware liefde en die voorbeeld van liefde afsterf.
  • Ek moes leer om kinderloos langs ander vroue te staan.
  • ‘n Lewe sonder vlerke….

Op ‘n dag in die kerk ervaar ek God se stem uit Matt 25:40 wat sê: En die Koning sal hulle antwoord: “Dit verseker ek julle wie dit aan die geringstes van hulle gedoen het, het dit ook aan My gedoen.”

In my hart druk die Gees die woorde wat vra, “Sal jy gehoorsaam wees, want Ek wil jou verander. Ek wil hê dat jy die volheid van my onpeilbare liefde moet ervaar.” Daardie aand lees ek weer 1 Korintiërs 13 en besef hoe groot Sy liefde vir ons is – so groot dat Hy alles gegee het, Sy seun, Sy gees, Homself, alles vir ons.

Op daardie oomblik voel ek hoe klein my lewe is, selfs my alles voel te klein om in dankbaarheid aan Hom terug te offer in ruil vir Sy liefde. Maar, ek vra Hom om dit te vat, want dis al wat ek het om te gee – my lewe – my alles!

Daardie dag het ek nuut opgestaan, ‘n nuwe skepping in diens van die allerhoogste en Drie-enige God. Maar ook in diens van die mense vir wie Hy lief is, mans, vrouens en kinders.

Daarom wil ek jou uitnooi om jou alles, jou hele lewe oor te gee aan die Skepper wat wurms in vlinders verander. Aan ‘n God van liefde wat jou vrede gee te midde van ‘n wêreld se chaos sodat jy waarlik “geliefd” kan wees. Onpeilbaar, onvoorwaardelik geliefd.