In Uncategorised

Watter gedagtes of reuke kom by jou op as jy die woord #NUUTwees lees? ‘n Nuwe laptop, ‘n nuwe foon en daardie opwinding om vir die eerste keer daardie pakkie oop te maak en die nuwe toestel aan te sit. Vir baie mense is dit die reuk van ‘n nuwe motor daardie eerste keer as jy in die motor klim en die reuk vul jou neus…

Toe ek die woord #NUUTwees lees kom die gedagtes van nat grond by my op. Wanneer dit so heerlik gereën het en jy kom buite en alles is skoon en nuut gewas deur die reën. Die reuk wat die reën op die grond agterlaat, daardie vars, skoon nuwe reuk is waaraan ek dink as ek die woord #NUUTwees lees. Pierre du Plessis vergelyk hierdie reuk met Jesus wanneer Jesus uit die dood uit opgestaan het.

Kom ek verduidelik, Pierre du Plessis het onlangs ‘n boek geskryf met die naam JESUS RUIK NA MIRRE EN STOF. In hierdie boek bespreek of altans beskryf Pierre die reuke van Jesus deur sy lewe tydens sy geboorte, kruisiging, dood en opstanding. Het jy al ooit gedink hoe moes Jesus ruik tydens Sy aardse lewe?

Die gedeelte van Jesus se reuk na sy opstanding is die gedeelte van die boek wat my die meeste aangeraak het.

Toe Jesus gebore is, het Jesus na stal, wierrook en mirre geruik. Aan die kruis het Hy soos sweet en bloed geruik. Na sy opstanding het Hy vars, skoon en nuut geruik. Sy liggaam was nie meer stukkend en vol bloed soos Hy gemartel was nie, Hy was NUUT gewees en elkeen van ons wat Hom volg, kan deel hê aan hierdie #NUUTwees van Hom.

Om in die wêreld iets nuuts te ervaar soos ‘n ‘upgrade’ van ‘n nuwe selfoon, ‘n nuwe haarstyl, ’n nuwe ‘outfit’, ‘n nuwe motor… is eintlik maar net tydelik. Jou hare groei weer uit die styl uit, jou nuwe selfoon krap, die nuwe reuk van jou motor verdwyn. Jesus se #NUUTwees is nie iets wat tydelik is nie, maar ewig.

Ons leef in ‘n wêreld waar mense soekend is na enige iets en alles wat hulle kan laat mooier, beter, jonger voel. Die wêreld se opwinding van nuwe dinge is net tydelik en dan soek die mens weer die volgende beste ding. Die mens soek en soek, maar word nooit werklik bevredig nie.

#NUUTwees by Jesus is anders as die wêreld en ons ervaar dit wanneer ons Jesus volg. Jesus het ons met Sy opstanding finaal ‘ge-upgrade’ en ons sal nooit weer enige iets anders nodig hê nie.

Hoekom lewe ons dan in ‘n samelewing wat oorheers word deur depressie en ontevredenheid? Moet ons as kerk nie dalk weer bietjie na ons ‘sales pitch’ kyk nie?

Mizelle Prinsloo is al drie jaar Leraar van Durbanville Bergsig Gemeente. Sy hanteer Junior Jeug, Gesinne, Vroue en gebed by die gemeente. Sy is getroud met Carlo Prinsloo en hul het ‘n dogtertjie Milla en seuntjie Zander wat oppad is.