In Individue

Met die aanvang van 16 Dae van Aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders, is dit heeltemal gepas dat ons as vroue sal besin oor wat dit beteken om ‘n stem te wees.

Twee gedagtes kom by my op – die een neem my na die verhaal van Koningin Ester en die ander neem my na die tema van boelies.

Vroeër die jaar terwyl ek ‘n praatjie vir laerskoolkinders voorberei het oor boelie-gedrag en respek, het dit skielik tot my deurgedring dat daar ‘n sterk verband tussen boelies op skool en die boelies in ons werksplekke, huise en slaapkamers is.

Ek het besef dat as ons dit nie jonk-jonk regkry om die boelie gedrag te erken, en leer om ons stemme te gebruik om dit aan te spreek nie, dan is ons net so verlam as hierdie boelies ons kollegas en werkgewers word. Ons loop ook die risiko om op hierdie boelies verlief te raak en selfs met hulle te trou. Boelie-gedrag wat nie jonk reeds aangespreek en daadwerklik anders begelei word nie, gaan nie vanself weg nie. Hierdie boelies word gewoon volwasse boelies wat ander meer subtiele vorme gebruik om ons te intimideer en ondermyn. Selfs in ons intieme verhoudings.

Hoe kan ek my stem gebruik?

Deur my kinders, kleinkinders en ander se kinders te leer en ondersteun om boelie-gedrag te kan herken en aanspreek. Ook in hulleself. Ons moet die moed hê om ook vir ons eie “wonderlike” kinders te kan sê: nee, dit is nie hoe ‘n mens teenoor jou boetie/sussie/maatjie/ander optree nie. En hulle help om mekaar te alle tye met respek te leer behandel.

Dit gaan natuurlik om meer as net respek, dit gaan daaroor om die werklikheid te LEEF en omarm dat ons as vroue en kinders nie net deur God gemaak is nie, maar ook gemaak is na GOD SE BEELD. As God se beelddraers, weet ons en wil ons leer leef met die vrymoedigheid om te kan sê: nee, dit is nie hoe ‘n mens ander behandel nie. Nee, dit is nie hoe jy my behandel nie.

Om in hierdie oortuiging te leef, gee ons die moed om aan te dring op respek en regverdige behandeling. Gee ons die moed om ons regte te leer ken en daarop te kan aandring.

En dit bring my by koningin Ester. Sy het beslis ‘n stem gehad, sy was immers die koningin. Maar nogtans sien ons in hierdie verhaal waar Hamman konkel om die Joodse volk uit te wis, dat sy ‘n diep bewustheid en versigtigheid het oor hoe om hierdie stem te gebruik. Sy weet en verstaan as sy net in die koning se troonkamer sou instorm met ‘n emosionele uitbarsting, dat sy summier doodgemaak kon word. Sy moet versigtig te werk gaan om seker te maak dat die koning haar wel te woord sal staan.

Wat doen sy?

Ester vra die Jode van Susan om drie dae saam met haar en haar kamerpersoneel te vas. Na die derde dag waag sy dit dan om na die koning te gaan.

Ons lees in Ester 5:2-3:
‘Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak. Die koning sê vir haar: “Wat kan ek vir jou doen, koningin Ester? Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfde van my koningkryk, dit sal vir jou gegee word.

En dan die verrassing, ‘n mens sou dink sy sou die geleentheid onmiddellik aangryp en dadelik haar pleidooi vir haar mense tot hom rig, maar sy doen nie. Sy bly kalm en nooi hom en Haman vir ete. En tydens hierdie ete nooi die koning haar weer om haar versoek tot hom te rig, en weereens stel sy uit…

Op hierdie punt van die verhaal raak ek gewoonlik ongeduldig: vra nou net en kry klaar, moenie nog uitstel nie!
Maar daar is vir ons ‘n les te leer hier. Ja, ons het ‘n stem. En ja, ons het nodig om ons stemme te leer gebruik, ter wille van ons eie lewens en die van ons kinders, maar ook in solidariteit met ander vroue wat gereeld slagoffers is van geweld en misbruik. Ons het soos Ester nodig om ons stemme so te gebruik dat ons wel gehoor sal word. Ester het ‘n aanvoeling gehad dat die tyd nog nie gereed is om haar saak te stel nie, sy bly dus kalm en geduldig, terwyl sy waarskynlik glad nie so voel nie! Maar die koning weet daar is iets op haar hart en wanneer sy wel praat, het sy sy volle aandag.

Kom ons wees passievol oor wat reg en verkeerd is, gedetermineerd om dit aan te spreek. Kom ons ondersteun mekaar daarin om hierdie stem te wees, emosioneel, innig en betrokke, want dit is deel van hoe God ons gemaak het, maar terselfdertyd kalm en deurdag genoeg sodat die wêreld nie anders kan as om te luister nie.

Aneleh Fourie Le Roux