In Individue

Deur Lina du Plessis

Ek beskou myself as een van daardie bevoorregte mense wat my passie en gawe, naamlik om mense op te lei toe te rus om ‘n permanente verskil in die wêreld te maak, en my roeping, om ‘n stem te wees vir verwaarloosde-, misbruikte- en weeskinders wat nie hulleself kan help nie, uit te leef.

So het ek het in 2004 as ‘n vrywilliger betrokke geraak by ‘n pleegsorghuis in Pretoria, want ek glo daaraan dat ‘n mens jou hande moet vuilmaak. ‘n Paar jaar later moes ek self in die huis gaan woon as gevolg van omstandighede buite my beheer en het ek 15 pleegkinders oor ‘n tydperk van vier jaar versorg. Dit was baie meer as hande-vuil-maak! Dit was moeilike jare, maar ek is geseënd, daarom moet ek tot ‘n seën wees vir ander, al was dit hoe uitdagend. As ek nou terugkyk na daardie tyd weet ek dit was praktiese opleiding om my toe te rus om eerstehandse begrip te hê vir verontregte kinders, maar ook vir pleegouers en ander versorgers.

Daar is baie stories om te vertel oor 15 kinders. Hier is een daarvan sommer ook betyds vir Kersfees!

Wat ek die graagste vir Kersfees wil hê

So ‘n paar dae na die bedrywigheid van Kersfees besluit ek om bietjie op te ruim. Ek tel toe ‘n briefie op onder die Kersboom wat gelukkig nie in die swartsak met al die geskeurde geskenkpapier beland het nie. Die briefie is geskryf deur ‘n 9-jarige dogtertjie wat onlangs in ons pleegsorghuis kom woon het. Terloops haar moedertaal is Pedi en ek skryf soos sy dit in Engels geskryf het.

“Dear santa claus i do belief in chrismas and i belief in you and what i want for chrismas is i want you to know thet can you make me to belief in Jesus and let Jesus come in my haert thank you.”

Ek gaan sit op die bank en lees dit weer en weer. Dit laat my huil. Ons is so behep met geskenke en wenslysies en dit is omtrent ‘n nagmerrie om betyds alles gekoop en toegedraai te kry. Praat nie van die besluite oor wat om vir wie te koop wat daarmee gepaard gaan nie. Wat op aarde koop ek vir so-en-so, want hy het alles wat kan oop- en toemaak? Ek het dit nie teen geskenke nie, maar ek het dit teen die oortreffende trap waarin ons soms geskenke gee. Ek weet ons hoor elke jaar oor en oor dat Jesus die grootste geskenk is. Dat ons net vir mekaar geskenke gee omdat ons lief is vir mekaar en dit ‘n teken is van wat ookal.

Maar hierdie dogtertjie se briefie het my regop geruk. Wat op aarde is ons mee besig? Dat hierdie kindjie vir santa (van alles mense of dinge…) moet vra om haar te help dat Jesus in haar hart moet kom bly. Dis haar hartsbegeerte.

Ek besluit toe om met haar oor haar briefie te praat. Hoe hanteer ek dit, wonder ek, ek wil nie haar spreekwoordelike bubble oor Kersvader bars nie, want dis lekker en groot opgewondenheid om aan die figuur te glo tot op ‘n dag …

Ons sit op die bank en ek vertel vinnig vir haar dat Kersvader sommer net iemand is wat iemand uitgedink het, voor haar bubble bars sê ek kom ons gesels oor jou briefie. Ek begin toe deur vir haar ‘n prentjie te teken van God, ons Pappa, Jesus, God se Seun, ons broer, en die Heilige Gees, God se gees wat in ons bly. Sy verstaan dit. Toe verduidelik ek vir haar met wie ons moet praat en vra wat ons graag wil hê. Dat Jesus baie, baie graag in haar hartjie wil bly en dat sy vir hom moet sê dis reg hy kan maar daar bly, want sy wil ook baie, baie graag hê hy moet.

Ek verduidelik toe ook vir haar wat ‘n verhouding met Jesus beteken. Dis nie soos ‘n kersgeskenk wat vir ‘n paar dae, dalk ‘n week of selfs ‘n maand wonderlik is om mee te speel en wanneer ek verveeld raak daarmee gooi ek dit iewers in ‘n boks nie. Dit is ‘n geskenk vir altyd en altyd. Daarom moet ek dit oppas. Sy en Jesus is nou maatjies, soos haar beste maatjie by die skool. Sy moet met Hom gesels (bid) en Hy sal met haar ook gesels. Hulle is nou saam!!!

Sy bid agter my aan: “Jesus ek wil verskriklik graag hê dat U in my hartjie moet kom bly vir altyd en altyd, want ek is baie lief vir U! Amen.”

Gee om …

(Uit “Flenters” Hoe omgee lewens kan verander deur Lina du Plessis. Lux Verbi 2014)