In Uncategorised

deur Dolf du Plooÿ

Teen my studeerkamer se een muur hang die woorde van Lao Tzu –

“The journey of a thousand miles begins with one step”.

Wanneer ek daarna kyk, word ek herinner dat ons almal eintlik maar net reisigers in hierdie lewe is. Elke persoon se lewensverhaal vertel in kleurvolle detail daardie reis.

Reguit pad?

Ek moet bieg. Ek het vir lank in my lewe gedink die lewe is ʼn reguit pad, wat nou en dan by ʼn vurk uitkom. Hierdie vurke is nou die plekke waar jy moet kies. Links of regs. En hopelik maak jy die regte keuse. Of jy reg of verkeerd gekies het, raak eers later in jou lewe duidelik. Dis hoe ek vir lank oor die lewe gedink het. Totdat ek ontdek het dat die lewe nie so eenvoudig met ons werk nie.

Enkelspoorpad!

Die lewe is eerder soos ʼn enkelspoorpad in die veld, ʼn bos of ʼn woud. Daar is ʼn klomp sulke paadjies. Jy kan voortdurend kies en besluit hoe en waarheen jy wil stap. Daar is nie net ʼn “links-” of “regs-keuse” nie. Dis ook nie so eenvoudig om altyd te sien watter keuse die beter een was nie. Sommige keuses laat jou ʼn langer roete loop, maar op daardie roete sien en ervaar jy dinge wat jy nie in ʼn ander deel van die “veld” of “woud” sou beleef nie. Jy ontmoet mense op die stiller dele van die roete wat jou lewe dalk dieper raak as wat jy sou kon voorspel.

My pad…

Op 9 April 2006 is ek as predikant in die NGK bevestig. Ek is hierdie jaar al 12 jaar ʼn dominee. Ek het nie gedink ek wou ʼn dominee word nie. Ek dink die afgelope tyd baie oor hierdie vreemde “beroep” wat ek gekies het. Of dalk het die “beroep” my gekies?

My lewenspad het ook al deur verskillende dele van die “veld” gekronkel. As ek so terugkyk sien ek nou eers die verskillende plekke waar ek moes kies om ʼn nuwe voetpad aan te durf. Die merkwaardige van daardie besluite, is die nuwe paaie waarop sulke besluite jou plaas.

Reisgenote

Ek en Ankia is nou 4 jaar in Stellenbosch. Dit was vir ons ʼn nuwe “journey” wat hier en in ons lewe begin het. Ons het nuwe mense ontmoet en daarmee saam ook ʼn eerste tree gegee op ʼn “journey of a thousand miles” saam.

Ons weet nie hoe lank ons reisgenote saam met ons die stukkie pad deel nie. Dikwels besef ons te laat watter waarde mense tot ons lewe byvoeg. Dalk sal ons anders begin leef wanneer ons besef dat ons elke dag eintlik nuut begin?

Paasfees

Die werklikheid van Paasfees herinner ons juis daaraan dat God met mense nuut kan begin. Dalk kan ek maar Lao Tzu se wysheid leen. Ek wil glo dat ons lewensreis eers werklik sin kry met daardie eerste tree wat ons gee, wanneer ons núút begin saam met die lewende, opgestane, teenwoordige Here. Dis treë wat begin by die kruis en die leë graf. Plekke waar ons die Here ervaar en ontmoet. Plekke soos ʼn doopbak en ʼn nagmaaltafel. Selfs rondom koffietafels en tussen gesprekke met vriende, familie en vreemdelinge.

Saam oppad

By die Here is dit nooit te laat om oor te begin nie. Die Here maak nuwe kanse en geleenthede voortdurend moontlik op ons lewensreis. Ons ontdek immers in die kerk ons is saam op reis. Ons pak die duisend myl nie alleen aan nie. Op hierdie pad is die Here saam met ons… en ook medegelowiges… en ook vreemdelinge.

Mag ons die veilige ruimtes van onvoorwaardelike liefde wees waar mense hulle eerste treë saam met die Here kan gee op ʼn reis van ʼn duisend myl.