In Individue

Daar is verskillende soorte paaie. Mooi,nuwe teerpaaie,lekker breed en veilig; ouer teerpaaie, smaller; nog ouer teerpaaie vol gate en slote; goeie geskraapte grondpaaie en van sleg tot baie slegte grondpaaie. Op my lewenspad tot nou toe het ek ‘n smakie van elke soort pad gehad. Van nuwe teerpaaie tot twee-spoor bergpaaie vol uitdagings. Dit het my ervaring gegee van hoe om te ry op alle soorte paaie.

Heilige Gees as GPS

Op my ouderdom het ek ook nou die voorreg om terug te kyk. “Hindsight is perfect sight.

As ek terugkyk is dit maklik om te kan sien waar ek van die pad af was. Terwyl ek gery het, verál in die donker, was dit moeilik om koers te hou. Dis dan wanneer ‘n goeie GPS wondere verrig, solank mens nie met hom stry nie. As mens nie luister nie, beland jy maklik op ‘n plek waar jy nie wil wees nie. Op my lewenspad het ek ‘n uitstekende GPS, naamlik die Heilige Gees.

Ek het dikwels op slegte plekke beland omdat ek nie na die stem van die Heilige Gees geluister het nie. Die rigting het nie reg gevoel nie en ek het my eie kop gevolg. Die Heilige Gees se GPS instruksies maak nie altyd sin nie.Die resultaat was elke keer rampspoedig.

Met die terugkyk besef ek dat ek ‘n klomp ervaring gekry het van grondpad ry en dat alles op die ou end ten goede meegewerk het, maar die luisterpad kon dalk makliker gewees het. Die Woord is ‘n lig op my pad en ‘n lamp vir my voet. MAAR dit gee dikwels net lig vir die volgende paar tree en dit is waar geloof inkom.

Vreemde nuwe pad

Ek is die afgelope week op ‘n vreemde nuwe pad geplaas. Ek het ‘n duidelike instruksie uit die Woord daaroor ontvang. Ek gaan met geloof die pad stap. In ons persoonlike en gesinslewe moes ons leer om soms blindelings en sonder dat dit sin maak te glo en te vertou. Ons is nou weer op so plek.

Ek weet teen dié tyd dat die Here ons nog nooit in die steek gelaat het nie. Ek herinner Hom aan Sy Woord as my hart benoud begin klop of dit voel of ek ‘n hou in my wind gekry het. Ek weet nie of die pad teerpad of ‘n rowwe 4 x 4 roete gaan wees nie. Ek weet net My Hemelse vader is aan die stuur en Hy is ‘n baie ervare bestuurder.