In Uncategorised

Wanneer ʼn lidmaat die woord “rentmeesterskap” hoor, sal ʼn mens hulle verskoon, wanneer hulle geneig is om hulle beursies stywer te wil vashou. Want, dikwels word “rentmeesterskap” en jou “beursie” in die selfde sin gebruik. Rentmeesterskap gaan immers oor baie meer, tog gaan dit juis ook oor jou geld.

Jesus leer dit vir ons treffend in die gelykenis in Lukas 12:13-21 met die vreemde naam, “Die gelykenis van die ryk dwaas”. Hoe is dit dan moontlik dat ʼn dwaas ryk kan word? Jy moet mos ʼn kop vir besigheid hê of dan ten minste hard werkend, om ryk te kan word. Of hoe?

Wanneer Jesus die broer antwoord, wat oor ʼn dispuut oor eiendomsreg na hom toe kom, dan kom sy antwoord in die vorm van ʼn gelykenis. Wanneer Jesus sy vinger druk op die eintlike motief agter die broer se versoek, dan voel ons ook hoe Jesus in ons eie lewens ʼn senuwee raakboor. Dit gaan hier oor gierigheid. En dit is vir Jesus belangrik om mense hieroor te leer, want dis ʼn saak van lewe: “ʼn mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie” (vers 15)

Die ryk man was die meester oor sy besittings. Hy het egter die fout gemaak deur te dink dat hy ook die meester van sy eie lewe is. Dit is die gevolg van gierigheid. Die onversadigbare drang na meer, maak jou blind vir die uitnodiging en opdrag om God se rentmeester te wees van dit waarmee die Here jou seën.

Die wêreld waarin ons vandag leef, maak dit ook nie vir ons makliker nie. Ons word geleer en gebombardeer deur die media en advertensies, dat ons nooit genoeg het nie. Mary Jo Leddy sê dat die kultuur van geld en die advertensiewese die boodskap van “Ek het nie genoeg nie” so in ons psige laat verdraai, dat ons later die boodskap hoor: “Ek is nie goed genoeg nie”.

Die lewe van ʼn gelowige, wat die toonbeeld van dankbaarheid moet wees, word deur gierigheid verander in onvergenoegdheid, haatdraendheid, spyt en jaloesie. [Lees gerus hier Denise Ackermann se hoofstuk oor wat dit beteken om genoeg te hê in Surprised by the Man on the Borrowed Donkey]

Goeie rentmeesters sien raak wat hulle het en is daarmee tevrede. Spyt en onvergenoegdheid steel daardie vrede en knaag aan jou om groter skure te bou en meer in te prop. Dit laat jou wegkyk van dit wat jy het en hou jou oog op ander en hulle besittings en prestasies.

Goeie rentmeesters gun ander en vier die suksesse en seëninge van sy naaste. Haatdraendheid is die resultaat wanneer jy ʼn wrok teen iemand dra, omdat jy nie kan kry wat hy/sy het nie en daarom hom/haar wil bykom. Dalk was dit ook iewers in die broer se agterkop toe hy met Jesus kom gesles het oor die erfporsie?

Slegte rentmeesters word gewoonlik uitgeken as mense wat jaloers is. Hulle kan ander nie gun wat hulle het nie. Jaloesie vernietig dit wat dit nie kan kry nie. Jaloesie is ʼn houding van “na-my-kom-jy-eerste”. Jaloesie vernietig verhoudings tussen mense. Slegs opregte dankbaarheid kan jaloesie verdryf.

In die gelykenis van die ryk dwaas hoor ons baie hiervan, sonder dat dit werklik uitgespel word. Onvergenoegdheid, spyt, haatdraendheid en jaloesie is tema’s wat in beide die broer wat by Jesus kom aanklop en by die ryk dwaas in die gelykenis te sien is.

Die kerkvader Augustinus het destyds al gesê die mens is gemaak om te begeer. Ons begeer na die nabyheid van ons Skepper. Ons begeer na die nabyheid van hulle wie ons liefhet. Ons begeer ook dit waarmee ons onsself kan omring wat die lewe vir ons lekker en gemaklik kan maak en dit wat ons kan vertroos.

Uiteindelik bly die mens soekend en onvervuld in ʼn materialistiese wêreld. Dalk het Augustinus uit sy eie lewenservaring gepraat toe hy gesê het dat die mens se hart altyd soekend bly om gemeenskap met God te hê, en dat ons net rus sal vind wanneer ons uiteindelik tot rus kom in Godself.

Wanneer jy by ʼn plek kom waar jy tevrede is met wat jy het, gebeur daar iets merkwaardig. Jy ontvang vrede. Jy word daarvan bewus dat jy nie besit word deur jou besittings nie. Jy raak los van die aardse dinge en jou liefde is geanker in jou Skeppergod. Jy word ʼn mens wat dankbaar is. Jy word iemand wat tevrede is.

Ek dink dankbaarheid word raakgesien in die manier waarop ons besittings vashou. Dalk is dit net ʼn ander manier om te dink oor rentmeesterskap? Dit help my wanneer ek verstaan dat die aarde aan ons geleen word deur ons kinders. Rentmeesterskap is om te sorg vir God se handewerk, totdat Jesus weer terugkom. Hoe ons na ons besittings en ons natuurlike hulpbronne kyk, verklap iets van ons rentmeesterskap. Kan ek dit waag om verder te gaan? Die manier waarop ons na ons troeteldiere, tuine en selfs ons dorp kyk, verklap hoe ons die skeppingsopdrag verstaan het om te heers oor die skepping.

Maar, dankbaarheid word ook gesien in die manier waarop ons besittings weggegee. Iemand wat wonder of hy genoeg het, sal altyd bly versamel. So ‘n mens se skure is altyd te klein. Iemand wat ontdek het wat dit beteken om dankbaar te wees, besef dat alles wat hy/sy het is net geleen. Alles is tydelik.

Iemand wat nie dankbaar is vir dit wat hy/sy alles vandag het nie, maar eerder groter skure wil bou vir môre, is ʼn dwaas.Is jy dankbaar? Of is jy ʼn dwaas?

Dolf du Plooÿ
Dolf is tans ‘n predikant by die NG Kerk Stellenbosch Sentraal