In Uncategorised

Toe ek klein was, was seer vir my iets soos ‘n gebreekte arm of geskaafde been. Ek onthou toe my hond oorlede is wou my ma dit eers nie vir my sê nie, omdat sy my die seer wou spaar. Hoe ouer ek geraak het, het ek  besef dat seer beteken soms gebroke harte. Seer kom voor in baie verskillende vorms, as ek net kyk na die nuus die laaste ruk kan ons verskillende vorm van seer identifiseer deur net na die opskrifte te kyk: die onlangse brugtragedie in Vanderbjilpark,  die drie-jarige dogtertjie van Durbanville, Plaasmoorde, misdaad, dood, verkragting, egskeiding net om ‘n paar te noem. Dan besef jy elke mens het hul eie vorm van seer en dat seer op verskillende maniere aan ons harte kom klop.

Soms kyk ons na ander mense se lewens en begeer die geluk wat ons van die kantlyn af sien, maar ons sal nooit regtig weet wat daardie persoon dalk alles moes verloor het om te kon kom waar hulle vandag is nie. Soms gun ons nie ander mense geluk nie, omdat ons nie werklik besef watter seer in daardie persoon se lewe skuil nie. Die realiteit is dat seer soms die beste weg gesteek word agter ‘n vrolike glimlag.

Soms dink ons, as ons ons seer ontken gaan dit ons help om van ons seer te vergeet.  Of dat ons eie seer net vanself sal verdwyn. Die probleem hiermee is dat ons dan ons seer probeer vul met tydelike geluk, dinge wat ons dink ons sal help om van die seer te vergeet, maar dit is niks anders as tydelik nie. Die realiteit is dat seer ons ook dikwels doof maak vir God se stem en ons verloor die waarde van God se liefde in ons lewe, wanneer ons nie ons harte daarvoor oop maak nie. Ons verskuif ons fokus na tydelike geluk, ons dink soms dat God nie ons seer verstaan nie en draai dan weg van God af, maar ons vergeet dat God self deur Jesus seer geken het. Hy het geweet dat seer deel is van die lewe en Hy het geweet dat Hy net op God kan vertrou in daardie moeilike tye. Wêreldse dinge verblind ons dikwels so erg dat ons slegs op ons seer fokus en die probleme wat daarmee saam kom. In die proses sien ons nie dat God deur ons seer saam met ons is nie – elke liewe tree.

Iemand het eenkeer gesê: Swaarkry het die vermoë om jou van alles te stroop, sodat jy beter kan sien wat jy van die begin af in die lewe moet sien en dit is vir God. God ken deur Jesus elkeen van ons se seer. Jesus het dikwels hartseer geraak en het ook baie keer vir God gesmeek vir antwoorde, maar Jesus het geweet dat Hy in hierdie lewe Sy fokus op God moet hou. Elke mens is tog gebroke gebore, want ons  lewe in ‘n stukkende wêreld, maar Jesus Christus se genade kom en maak ons heel, en daarom kan geen seer, teleurstellings of mislukkings ons ooit so opmors dat die genade en liefde van Jesus ons nie kan heelmaak nie.

Een van God se mooiste beloftes vind ons in Jesaja 43:2, “As jy deur water moet gaan, is ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie, as jy deur vuur moet gaan sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie.” As God belowe om saam met ons deur riviere en vuur te loop, dan weet ek verseker dat God ook in my tye van “seer-wees” reg langs my loop. Die Vyand wil ons dikwels net meer vernietig in tye van seer en ons probeer oortuig dat God ons agter laat en van ons vergeet. Maar dit is in hierdie tye wanneer ons kan fokus op die kruis en besef dat Jesus die wêreld se seer op Hom geneem het sodat ons ook volkome kan vrywees van ons eie seer.

Seer beteken vir my vandag baie meer as net ‘n gebreekte arm of ‘n geskaafde been, dit beteken om soms ‘n gebroke hart te hê, maar ek vind kalmte in die wete dat my lewensredder op water kan loop en dat Hy my nooit sal los nie. In tye van seer moet ek net my fokus verskuif na God se  beskermde hande wat my help om te loop, want ek weet een ding verseker ek loop op geloof.

Le-Anke de Lange is gebore in Cradock, grootgeraak in PE, teologie geswot op Stellenbosch en is nou Jeugwerker in Lichtenburg.