In Uncategorised

Toe ek die tema lees #SEERwees, het dit my getref.  Dalk omdat my seuntjie onlangs sy mond gestamp het teen ‘n tafel, net duskant van ‘tand-verloor’.  Ek weet eerlik waar nie wie #SEERder gehad het nie, hy of ek wat moes troos en die seer stil.

Daar is min mense wat kan sê hul weet nie wat dit is om #SEER te wees nie.  Ons word omring met seer.  Hetsy dit ‘n fisiese of emosionele #SEERwees is.  Soms is dit juis daardie emosionele seer wat meer skade aanrig.  Nie net aan jouself nie, maar ook aan ander.  Dis soms te maklik of voel na die enigste uitweg om ander ook seer te maak, sodat hul kan ‘voel hoe dit voel’…

Ek dink terug aan ‘n geval op sosiale media waar ‘n man ‘n vrou geslaan het in die publiek.  Skielik het almal vreeslik opgestaan vir haar regte en verstaan my mooi, ek stem heelhartig daarmee saam.  Alhoewel, dit was vir my hartseer, nee hartverskeurend, om te sien hoe ons as die samelewing vergeet dat daardie man ook #SEER het.  Beloftes van aanranding, teistering en selfs doodsdreigemente is teenoor hom gemaak.  Wat presies maak ons dan anders as die man wat sy hand gelig het vir die vrou?  Ons lig dit net op sosiale media?  Sjoe, dan dink ek skielik aan die vrou wat heel moontlik nog fisies #SEER is en dan ook emosioneel #SEER is.  Daar word heeltemal vergeet om dieper te kyk, selfs hulp aan te bied.  Dalk te kyk met God se liefdelike oë?  Nee, ons verval tot die van, ‘n oog vir ‘n oog.

Ek het altyd geglo dat daar moet ‘n goeie rede wees hoekom iemand, soms selfs ek, #SEER het.  ‘n Wyse persoon het ‘n baie waar stelling gemaak.  Die lewe op aarde is onvolmaak en soms gebeur dinge vir geen werklike rede nie as bloot net, omdat die lewe op aarde onvolmaak is.  Sou die seer minder wees met die wete dat daar tog ‘n doel met dit is?  Ek twyfel…  Vriende en familie kan jou troos, dokters kan jou medikeer, maar sommige #SEERwees verlang net een tipe genesing.  Ek glo dat as jy hierdie skrywe op hierdie webwerf lees, weet jy na Wie jy jou seer moet neem, ons Drie-Enige God.  Tesame met daardie stelling weet ek dat om midde in daardie seer te wees maak jou blind, doof en somtyds stom.  Dalk selfs ‘n bietjie halsstarrig om jou enigste troos te gaan soek, daar waar jy weet dit vandaan sal kom, God.    Die enigste Een wat werklik jou seer ken, voel en kan stil.

Hoekom dan nou dink aan #SEERwees in die maand van liefde?  Liefde is wat jou red van #SEERwees.  Wat is liefde, God is liefde.  Ons is omring met seer en ek glo dat ons doelbewus ons moet vul met God se liefde en dit ook so moet uitleef.   Sien mekaar se #SEER raak en gaan vind saam, deur gebed, die werklike, enigste troos wat slegs ons Drie-Enige God ons kan bied.

Ilze Lammers:  ‘n Eggenoot, mamma, vriendin en meer belangrik, ‘n kind van God, wat weet wat #SEERwees beteken.