In Uncategorised

Ons almal luister daagliks na honderde stemme. Hierdie stemme praat, of ons nou na hulle wil luister of nie. Die wêreldnuus se stem, die skool se stem, jou kinders se stemme, die werk se stem, sosiale media se stem, die foon se stem, jou eggenoot se stem, die kerk se stem, vriende se stemme, die bedelaar by die hek se stem, die res-van-die-familie stem, die stem in jou kop en so hou die lysie aan. Al hierdie stemme ding mee om eerste gehoor te word, om die belangrikse stem te wees, om die meeste van jou aandag te geniet.

Die feit dat ons nog ons hele trop varkies op hok het tussendeur al die honderde stemme, is ‘n wonderwerk. Of ‘n fyn ingeoefende vaardigheid!

Met die gebeure rondom Jesus se kruisiging en opstanding, moes die vroue naby aan Hom ook na baie stemme luister – stemme wat vermoed het Hy is die Messias, stemme wat Hom veroordeel het, stemme wat geskree het “kuisig hom! Kruisig hom!” Stemme wat gesê het dis klaarpraat, stemme wat moed en hoop verloor het, Jesus se eie stem “Vader in U hande gee ek my oor…”.

Maar dan was op daar die derde dag die Stem wat vroegoggend vir Maria gevra het “Hoekom huil jy? Wie soek jy?”. Dis die Stem wat vir die vrouens die boodskap gegee het wat die mensdom se koers vir ewig verander het: Christus leef, Hy het opgestaan uit die dood!

Hierdie boodskap was so oorweldigend dat die vrouens dit nie vir hulleself kon hou nie – dit moes uit! En so het die vrouens die eerste menslike stemme van Jesus se opstanding geword. Ons hoor min vroue se stemme in die Bybel, en hier laat Christus se opstanding hulle stemme hard weerklink met die kragtige boodskap: “Hy leef, hy leef!”

Ons is mense van die opstanding. Soms is ons soos Petrus: ons tree op en maak keuses wat Christus se heerskappy in ons lewens verraai en ontken. Maar meer gereeld (hopelik!) is ons soos die vroue wat die realiteit van Christus se opstanding uitroep in tye waar dinge donker en hopeloos lyk.

Ek lees die week ‘n tweet raak van Carlos A. Rodriques (@HappySonship):
“Dear Church,
Jesus protected women.
Empowered women.
Honored women publicly.
Released the voice of women.
Confided in women.
Was funded by women.
Celebrated women by name.
Learned from women.
Respected women.
And spoke of women as examples to follow.
Your turn.”

In die afgelope tyd het ek baie nagedink oor #stemwees: om ‘n stem te wees vir stemloses, om namens ander mense te praat en hul saak te stel. Ek is gereeld in die posisie waar ek ‘n “vroue-stem” moet verteenwoordig in verskillende kontekste, asof alle vroue homogeen en eenstemmig is.

In my soeke en baie gesprekke het ek geleer dat die uitrukking “om ‘n stem vir stemloses te wees” ‘n onderdrukkende term is. Niemand is stemloos nie. Almal het ‘n stem. Dis nie waar die probleem lê nie, die probleem lê by die luisteraar wat sommige stemme verkies bo ander.

Die verhaal van vroue tydens Christus se opstanding, asook die tweet van Carlos A. Rodriques help my om twee dinge te onthou:

#1 Christus se opstanding is die bron van my stem:

Die opstanding van Christus is die kern van ons geloof. Dis die bron van ons hoop, van ons liefde, van ons vergifnis. Dis die kern van ons stemme. Daarom, wanneer ons praat, moet die klanke van die opstanding in ons stemme hoorbaar wees – of dit in gesprek met vriende is en of dit in ‘n korporatiewe bestuursvergadering is. ‘n Wyse mens herinner my gereeld daaraan dat my woorde dit vir mense maklik moet maak om in Christus te glo.

#2 Ons, die kerk, is luidsprekers van stemme wat nie normaalweg gehoor word nie:

Eerder as om ‘n “stem vir die stemloses” te wees, kan ons as kerk, ons stem gebruik om die tafel dek sodat diegene wie se stem normaalweg geïgnoreer word, ‘n ereplek kan kry. En dan wanneer ons saam eet, moet ons luister, en nogmaals luister. Daarna kan ons doelbewus die gesprek so lei dat almal kan deelneem en stemme ondersteun en versterk word. En dan moet ons gereeld daarna weer saam die brood breek en die wyn drink.

Hoe doen ons dit prakties?

Die antwoord hierop is baie kontekstueel, maar die volgende vrae kan ons help om in ‘n rigting te stuur:

• Wie is die mees onwaarksynlikste mense om gehoor te word in jou konteks?
• Wat is die Here besig om in en deur hulle te doen? (Hierdie vra na ‘n baie diep, lank en fyn luister)
• Wie het nodig om hulle storie te hoor?

Mag ons almal die waagmoed hê om die tafel te dek. Dis ons beurt.

Melanie Thirion is ‘n volger van Christus wat altyd op die uitkyk is vir die skoonheid van die lewe. Sy bedien al vir meer as 10 jaar in die NG Kerk, eers in jeugbediening en onlangs geskuif na die uitreik en vennootskap-bediening toe. Sy is ‘n eggenoot en ook ‘n ma, wat ook soms oorweldig word deur die druk wat voltyds werk en ma-wees bring. Daar het Christus se liefde en genade haar al geleer: wees sag met jouself en almal om jou.