In Uncategorised

Elke Donderdag-oggend sit ek getrou my swart badge op my swart klere. Elke Donderdag wanneer ek hierdie badge opsit wat lees: “Thursdays in Black: towards a world with no rape and violence,” dan word ek nie net bewus van die hoë vlak onveiligheid in ons land nie, maar ek word opnuut bewus daarvan dat ek hierdie badge dra omdat ek hierdie werklikheid waarvan dit getuig grotendeels vrygeskeld is – op grond van my ekonomiese status, velkleur en die geskiedenis van ons land; dat ek bevoorreg is en daarom nie ‘n storie (of stories) het om te vertel nie, maar net ‘n swart badge kan aansit. (Let wel, ek besef wanneer ek dit sê dat daar wel mense is wat ook in dieselfde “kategorieë” val as ek, maar wel stories het om te vertel van geweld en verkragting. Ek verwys bloot na myself en my eie ervaringe in hierdie stuk.)

Volgens die Amerikaanse sielkundige, Abraham Maslow, is die behoefte van veiligheid en sekuriteit, ons tweede grootste behoefte waaraan voldoen moet word in ons reis na die vervulling van ons volle mens-wees. Hy beskryf dit ook as ‘n “verlies aan vrees”.

As iemand wat grootgeword het in Suid-Afrika, verstaan ek ‘n mate van vrees. Ek het grootgeword met deure en sekuriteitshekke wat gesluit gehou moet word al is dit binne heinings, met alarms en diefwering – dit alles op ‘n baksteenhuis in ‘n relatief veilige area in ‘n relatief rustige woonbuurt. Hierdie huis was ook beskut van elemente: kom wind en reën en ek was nooit geraak as ek in my bed gelê het nie – anders as baie van my mede-Suid-Afrikaners. My behoefte aan sekuriteit (en feitlik al Maslow se uiteengesette behoeftes) is aan voldoen en ek kon in my potensiaal ontwikkel, my roeping volg en kan tans weer veiligwees in ‘n huis in soortgelyke omstandighede as my grootword-huis, met ‘n bediening as leraar van ‘n gemeente wat my goed kan versorg en ‘n eggenoot wat my respekteer en liefhet.

Elke Donderdag-oggend wanneer ek my swart badge aansit, word ek egter met hierdie werklikhede gekonfronteer. Die feit dat ek hierdie badge moet aansit, beteken dat daar vroue, kinders en selfs mans is in ons land – in my dorp – wat nie dieselfde veiligheid beleef as ek nie, wat nie eers kan begin dink daaraan om hulle volle potensiaal uit te leef nie omdat hulle “kind-wees” deur onveiligheid van hulle gesteel is of word, omdat hulle hard moet werk vir minimum loon (of minder) om net seker te maak dat hulle en hulle familie kan eet, en dit alles in omstandighede wat veel minder veilig is as my grootword-huis.

Hierdie besef se natuurlike gevolg is magteloosheid en hartseer… maar as Christen, mag ek nie hierin vasgevang word nie.

As veiligheid beskryf word as ‘n “verlies aan vrees”, dan is die natuurlike antwoord vir ons wat God ken, liefde. Ek verstaan dit kan dalk ‘n bietjie flou klink omdat hierdie woord “liefde” al so afgewater is in ons samelewing (en soms, hartseer genoeg, in die kerk) dat dit klink asof ek net my oë wil toemaak vir die probleem en aangaan in my “veiligwees” sonder om ander se onveiligheid te sien. Dit is egter nie hoe ek liefde verstaan nie. Dit is ook nie hoe ek God ken nie en God is Liefde.

Die twee beskrywings van liefde in 1 Korintiërs 13 wat my nog altyd die meeste geraak het, maar terselfdertyd die meeste uitgedaag het is: “…[die liefde] soek nie sy eie belang nie…” en “[Die liefde] verbly hom nie in onreg nie…” Dit is hierdie twee tekste wat my uitdaag om vrae te vra oor my eie “veiligwees” en voorregte as ander dit nie het nie, want liefde vir my naaste wat van ‘n ander ekonomiese status en velkleur is, met ‘n ander situasie as gevolg  van ons land se geskiedenis as ek, beteken om na hulle storie ook te luister – om hulle belang ook te soek en nie net my eie nie.

In ‘n land waar daar feitlik elke dag ‘n nuwe onreg oopgevlek word, kán ek nie meer soos in my jeugdige naïewiteit van daardie veilige grootword-huis van my, ignoreer wat sisteme aan my broers en susters doen nie, aan my mede-skepsels van God doen nie. Dit is onreg waarin ek nie kan verbly met die liefde wat ek leer by Jesus nie: dat daar aan al my behoeftes voldoen word, maar nie aan die baie basiese behoefte van veiligheid en vreesloosheid van medemense nie.

Ek weet hierdie uitdaging is nie ‘n maklike een nie en ek besef dit gaan nie oornag verander of regkom nie, maar “die liefde is geduldig” en “[die liefde] bedek alles, glo alles, hoop alles…” In hierdie gees, sit ek dan steeds my swart badge aan op Donderdae en vertel mense wat vra wat dit is hoekom ek dit dra. Met die aansit en dra daarvan, wy ek myself elke keer opnuut daaraan toe om lief te wees vir my medemens soos Jesus my leer. Ek verbind ook myself daartoe om in liefde en nederigheid hulle stories ook te leer ken, sodat God my kan wys hoe ek ‘n verskil kan maak aan hulle veiligwees, want almal verdien ten minste dit.

Elzanne van der Westhuizen het in in Brackenfell grootgeword en is sedert die begin van 2018 mede-leraar by NGK Stellenbosch-Welgelegen. Sy woon in Stellenbosch saam met haar man, Freddie, hulle drie hase: Lindt, Ferrero en Sophie, en twee baie lewendige skaaphonde: Zuri en Leia.