In Uncategorised

Deur Marileen Steyn

Die verkeerde kant van 25

Dit is amptelik. Sedert 11 Mei 2018, staan ek aan die verkeerde kant van 25. Vaarwel prulle jeug van vroeg 20’s. Hallo gevreesde 30’s. Ewe skielik is die doelwitte wat ek teen 30 wou bereik, nie meer so ver in die toekoms nie. My grootmondpraatjies van “eendag as ek 30 is…” wink vir my. En dalk moet ek my vriend wie ek sou trou as ek nie my sielsgenoot betyds vind nie, bel en ons troudatum met nog ‘n paar jaar aanskuif.

Alle grappies op ‘n stokkie. Ek weet ek is nog nie oud nie, maar ek weet ook dat ek amptelik nie meer in die klassieke definisie van jonk val nie. Veral nie as die hoogtepunt van my dag is dat dit die ideale weer vir wasgoed was is nie.

Eendag as ek groot is?

As jeugwerker, het ek die voorreg om met die ware jonges van dae te werk. Graag luister ek na hulle drome van “O! Eendag as ek groot is!” Ek glimlag vir die jongmense wat hul jeug verby wens.

En hoekom? Een woord: onafhanklikheid. Dit word dalk verskillend verwoord, maar deur die bank wens ons jongmense vir hul onafhanklikheid: wanneer hulle lekkergoed vir ontbyt kan eet, nie meer skool toe hoef te gaan nie, hulself kan rondry, hulle eie geld kan maak en dit kan spandeer soos wat hulle wil. Wanneer Mamma, Pappa of enige ander grootmens se opinie of reëls nie meer hulle hoef te traak nie.

Die ding is, ek tel seker nou as ’n grootmens. Want ek hét vanoggend lekkergoed vir ontbyt geëet en om die waarheid te sê, voel ek nou so bietjie naar. My dag was vol verrassings en nou is ek agter met my werk. Ek het die minimum petrol in my tenk oor en ek hou my bankrekening fyn dop om te sien hoe die maand gaan afspeel.

Partykeer is my onafhanklikheid nie alles wat ek, nes hierdie jongmense vandag, gedink het dit gaan wees nie. Partykeer maak ek dom besluite en moet ek die gevolge dra. Partykeer is ek minder gesond, minder versorg, as in die dae in my ouers se huis. Partykeer moet ek erken dat totale onafhanklikheid nie die Utopia is nie.

Dit is sulke tye wat ek die koster by ’n vorige gemeente se gereelde antwoord op “Hoe gaan dit?” onthou: “Dit het beter gegaan toe ek nog in my pa se huis gewoon het.”

Beter in my Pa se huis

Maar onafhanklikheid is nie net ’n fisiese ding nie, is dit? Dit is ook ’n emosionele ding; ‘n spirituele ding, selfs. Want nes my jeug wil ek ook soms meer onafhanklik wees in my geestelike lewe. Ek wil doen wat ék wil. Ek raak moeg vir die moeilike lewe wat dissipelskap vra. Ek wil self besluit. Ek wil soms voorsienigheid toeskryf aan ander goed soos harde werk of toeval. Ek wil self verantwoordelikheid neem vir my daaglikse brood.

Ek loop my egter vas. Want nes ek nie altyd my fisiese onafhanklikheid goed kan bestuur nie, bestuur ek ook nie my geestelike onafhanklikheid so goed nie. Telkens word ek herinner hoekom God se wil beter is. Hoekom sy weë goed en reg en wys is. Ek word herinner dat Hy beter kan voorsien as wat ek ooit sal kan. Hy is immers die voorsiener van die daaglikse brood. En voor ek my kan kry, dink ek: “Dit het beter gegaan toe ek nog in my Pa se huis gewoon het.”

Ek kan niks doen aan die dreigende 30’s nie. As jong volwassene, is my onafhanklikheid ‘n gesonde stap in die grootwordproses. Ek sal definitief nooit vir ewig kan jong wees nie. Dalk nie fisies nie.

Ek is egter wel besig om dit ernstig te oorweeg om vir ewig geestelik jonk te wees. Om jonk te wees in my afhanklikheid van God. Té jonk om my besluite sonder sy raad te neem. Té jonk om te dink dat ek vir myself kan voorsien. Té jonk om uit sy huis te trek. Té jonk om die naelstring tussen my en my Aartsmoeder te knip.

Marileen Steyn het teologie aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy is vir die afgelope jaar en ’n half jeugwerker by NG Saldanha. Sy’t ’n passie vir reguit praat oor moeilike sake. Sy wonder gereeld of “grootword” nie maar net ’n mite is nie.