In Individue

Om vry te wees is vir my om sonder ń swaar vrag deur die lewe te loop. Ons dra dikwels soveel bagasie saam dat ons gebukkend loop en nie rondom ons die mooi blomme, berge en veld raaksien nie.

Vir my is vrywees VREDE.

  • Vrede om by dié plek te kom waar jy besef dat daar tye is waar dinge op jou pad kom, wat jy nie kan verander nie juis omdat dit jou moet verander.
  • Om vir myself toestemming te gee om die gevoelens te hê wat ek op ń spesifieke oomblik voel. Soms is mens kwaad of ander is kwaad vir jou, soms is jy hartseer, soms het jy enige ander emosie wat jy liewer wil onderdruk en jouself wil wysmaak dat dit nie is hoe jy moet voel nie. Maar as jy vry is, weet jy dis daar en laat jy jouself toe om daardie emosie te ervaar.
  • So dikwels wil ons vir God vra om negatiewe emosies soos kwaad, hartseer of vrees weg te neem, maar dis dikwels juis in hierdie tye wat God vir ons iets wil sê.

Toe ek besef het om vrede in my hart te hê maak my vry, het ek besef God wil hê ek moet geduldig met myself wees. Dis dalk juis in die tyd dat God vir my wil sê dat ek nie altyd reg is nie, dikwels verkeerde besluite neem, verkeerde keuses maak en verkeerde dinge doen. Dat ons nie ń perfekte ouer, vriend, mens hoef te wees nie. Dat ons nie eers naby perfek hoef te probeer wees nie. Ons kan maar net onsself wees, leef met ons foute en dan daaruit leer.

Ek is vry wanneer ek myself toelaat om EK te wees. Net soos ek is.