In Uncategorised

As kind was my tema lied: “Ek’s ’n dapper muis.” As daar ’n spinnekop gevang moes word, roep vir Annelet. As jy in die nag op ’n kamp badkamer toe moes gaan, roep vir Annelet. As iemand vir die Gr.7’s moes sê om ons op te hou ons boelie, roep vir Annelet. As iemand op die klimraam vas gesit het of ’n kêrel afgesê moes word, roep vir Annelet.

Ek weet nou dat ek eerder waaghaalsig en arrogant was, nie waagmoedig nie, maar tog is ek bly vir die kleintyd naïwiteit, want dit het my help vorm aan my konsep van wat waagmoed is. En alhoewel die uitdagings en uitspeling van wat waagmoed is verander namate omstandighede en tye verander, bly paar goed vir my waar: Waagmoed vlakke styg namate die mense rondom jou in jou glo. Verskonings en waagmoed gaan nie saam nie en waagmoed gee realiteit aan jou wildste drome.

Die afgelope paar maande het ek egter bewus geraak van ’n nuwe tipe waagmoed, iets nuuts in my lewe en daarom dra ek vandag hierdie blog op aan my ma.

Na 23 jaar in dieselfde huis moet my ouers oppak, wegpak, weggooi en wegtrek. Terwyl ek die vakansie vir ’n paar dae gaan uithelp het om my groot-word-huis op te pak, kom ek op ’n hand geskrewe gedig af wat ek nog nooit van te vore gesien het nie. En net so word my defenisie en verstaan van waagmoed verdiep en verbreed. Ek deel graag die gedig met julle. Vir haar was dit ’n manier om ’n lewensfase te verwoord, vir my is dit ’n lewensles in waagmoed.

 Kersfees sonder kinders

 Ek staan in die stoorkamer en kyk na die boks met die kersboom. Sal ek…of moet ek maar los. Vir die eerste keer gaan daar hierdie jaar geen kind tuis wees nie. Al vier is die wêreld in, elkeen in hul eie koers. Net voor ek tranerig raak, besluit ek: Kom boom – Kersfees is Kersfees, met of sonder kinders.

 Na ’n groot gespook staan die boom uiteindelik in die woonkamer. Vir die ma’s met kleintjies wil ek net sê: “Waardeer daardie oorgretige onbeholpe handjies, sonder hulle gaan dit swaar!” Ek sleep die krat met die versierings nader en met die uitpak kom die onthou.

 Hier is die gipsvormpies wat hulle kleintyd gemaak het. Kyk die bont beertjie: Kleinsus was maar 3 toe sy dit geverf het. En Ouboet se kersvader met al die fyn detail. Sussa se veerengeltjies lyk nog goed. Boetman se papierkettings het sowaar die jare se wegpak oorleef.

 My Kersboom word ’n Onthouboom. Versigtig hang ek die herinnerings een vir een op. Soos ’n ma maar is, begin ek bekommer. Ek was nooit iemand vir preek nie, het ek genoeg gesê? Het ek die regte boodskap gegee toe hulle uit die huis is?

 Ouboet gaan jy okay wees daar waar jy nagouditeur in die hotel is? Gaan jy die betekenis van Kersfees onthou so tussen al die wêreldsheid? Toe hoor ek wees sy hoog-laag stem van Gr.9 die dag toe oupa oorlede is: “Mamma dis mos waarvoor Kersfees daar is – dat ons nie hartseer hoef te wees nie. Dis wonderlik dat Oupa op Jesus se verjaarsdag na Hom toe kon gaan.”

 Boetman, my paramedic, gaan jy veilig wees as jy so met die ambulans rond jaag? Die paaie is so onveilig! Sy onthoustem stel my gerus: “Ma, ek weet dis wat ek moet doen. Ek wil ’n verskil maak.” 

 Sussa is by die see. Sy hou stranddienste. Gisteraand toe sy gebel het, kon sy nie ophou babbel oor hoe wonderlik dit is en hoe die kinders hulle harte oopmaak nie.

 Kleinsus, die baba, au pair in Duitsland. Gisteraand het haar “baas” vir my ’n e-pos gestuur met ’n foto van haar en die kinders by die kerk se Kersspel. Hy noem dat dit wonderlik is om ’n tiener te sien wat nie skaam is om Christenskap uit te leef nie.

 Met die klanke van BoneyM se Kersmusiek kom daar groot vrede in my hart. Al gaan my kinders se geskenke vanjaar onoopgemaak onder die boom bly staan, weet ek; elkeen het reeds die grootste Geskenk ontvang. Hy sal sorg. En die wete, is my spesiale geskenk.

 Anriette

Barkly-Wes

Mag my storie van waagmoed so uitspeel.

Waagmoed: om jou waag en moed te baseer op die wete dat God sorg.

Annelet Slazus is ’n predikant by NGK Wellington-Oos en sy is baie lief vir haar ma.