In Uncategorised

Vrou wees in die media

As ek die tydskrifte sou glo, beteken vrouwees dat ek 99% van die tyd met ‘n glimlag op my gesig, perfek gestileerde hare, mooi en duur klere, en hoë hakke moet rondloop. Dat my lewe alles is wat ek van droom, en dat ek presies weet waarheen ek oppad is die toekoms in.

Maar ek is goed vertroud met die mengelmoes van emosies: vreugde, hartseer, nuuskierigheid, opwinding, angs, vrees, hoop, moedeloosheid…’n “good hair day” vind dalk een maal per week plaas, my klere is eerder prakties as prentjiemooi, en ek kon nog nooit hoë hakke baasraak nie. Ek wonder dikwels of ek besig is met die regte dinge, en of dit wat ek doen betekenisvol is. En die paadjie die toekoms in is dikwels onduidelik en onseker.

Vrou wees by die huis

As ek die televisie sou glo, beteken vrouwees dat ek gek is oor huis skoonmaak en kos kook, dat ek omring is deur soet kinders, en dat ek en my man op ons slegste net liggies ontsteld raak vir mekaar. Dat ek ‘n groep vriendinne het wat ek elke dag sien, en wat baie tyd het vir koffie drink en opvang, en raad uitdeel vir elke probleem onder die son.

Maar ek sukkel om met toewyding soggens die bed op te maak, kook maar so-so, het vierpote vir kinders, sug wanneer die wasbak kreun van die skottelgoed en ons ‘n spanpoging vir die skoonmaak moet aanwend, en kan net so deeglik baklei soos wat ek kan liefhê. Ek voel gereeld of ek my vriende afskeep en heeltemal uit balans leef, en lomp is met luister of raadgee, wanneer dit die nodigste is.

Vrou wees by die werk

As ek die arbeidsmark sou glo, beteken vrouwees dat ek tevrede moet wees met ‘n glasplafon, en dat sekere poste my nie beskore kan wees nie, omdat ek te emosioneel is of eerder verhoudingsgerig moet uitdrukking gee aan my beroep. Dat ongewenste opmerkings oor my liggaam en stereotipiese grappe my nie behoort te ontstel nie, want dit is nooit kwaad bedoel nie.

Maar ek kan nie vrede maak daarmee dat alle mense nie gelyke geleenthede het nie, en dat ek nie ook mag droom daarvan om my sterkpunte, gawes en roeping uit te leef, binne enige werksomgewing nie. Ek kan my nie doof en blind hou vir woorde en gebare wat van my ‘n mindere maak, en my onwelkom laat voel in my eie vel nie.

Vrou wees in die nuus

As ek die nuus en koerante sou glo, beteken vrouwees dat my liggaam, as ‘n vroueliggaam, moet verwag om verniel te word, en dat mishandeling en verkragting normaal is. Dat ek oor my skouer moet loer wanneer ek alleen gaan stap of draf, en dat ek altyd op die uitkyk moet wees vir iemand wat my wil seermaak.

Maar ek worstel met die wete dat ek konstant onveilig moet voel, en dat ek van kleins af moes leer hoe om myself te beskerm teen hulle wat onbegrensd en gewelddadig leef. Dat ek bevoorreg is om ‘n huis te deel met ‘n man wat my koester, maar dat soveel vroue op hul bangste is wanneer hul wederhelftes tuiskom.

Vrou wees by God

As ek God sou glo, beteken vrouwees egter iets verrassend anders: ek is geskep na die beeld van God self. Ek is genoeg. Ek kan my roeping op ‘n velerlei maniere uitleef – met waagmoed, dapperheid, deernis, en wysheid. Ek hoef nie ‘n front van volmaaktheid voor te hou nie. Die seer van die wêreld – hoe oorweldigend ookal – het nie die oorhand oor die Een wat liefde en genade beliggaam het nie. Ek kan met vrymoedigheid my drome nastreef. Ek mag na myself omsien. Ek het keuses. En ek is veilig in die hande van die Skepper.

Nina Müller van Velden, Augustus 2018