In Uncategorised

deur Annalise Wiid
(Dit was oorspronklik ‘n LiG rubriek en is daarna gepubliseer in my boek, Skewe snytjies Brood (Lux Verbi))

Sy liefde is alweer op haar lyf ingekleur
Kyk hoe mooi is die blou wat met pers inskakeer

Sy sê dis net soms, hy’s eintlik ‘n lam…

Sporadies versier hy haar vel met sy haat
Smeek dalk haar lyf om vergifnis, want haar siel sit op straat

Uit Anna Davel se lied “Viooltjies”, van haar CD “Te Diep”

Sy moes donkeraand na ‘n vriendin toe met die oop oogbank. Half blind van die bloed en die bang. Maar sonder die gewoontevrees van: wat gaan hulle dink? Dié keer was dit te erg! Iemand moes weet, iemand moes haar help…

Daar was toe nie onnodige vrae nie. Haar vriendin het, stil, die bloeding gestop, die wond verbind. Soos ‘n engel van genade. Soos ‘n ma. En eers later, met die sterk soet tee in haar hande gekelk, net gesê: Slaap vannag hier. Jy kan môre besluit wat om te doen…

Met die wakkerword die volgende môre het sy klinkklaar, met ‘n bynavergete vroukrag, opgestaan: Dit was die laaste! Ek gaan van hom skei. Al is hy vandag weer sag en spyt. Dis klaar. Ek gaan nooit weer sê ek het by ‘n trap afgeval of in die deur vasgeloop nie.

Hy het ‘n nag in die selle geslaap. En die nag was ‘n eeu lank. Flardes van hulle gesprek het uit sy breinnewels sy bewustheid ingeskiet, hom getreiter. Hy het die oomblik toe hy gesnap het oor en oor beleef, maar hy kon nie onthou watter woord het dit getrigger nie. Jare se vrotgegisde woede en paniek het net plotseling oor hom gebreek soos ‘n van-agter-af golf en hy het sy vuis voel uitskiet… toe sy voet… Sy was witgeskrik… En hy het, half mal, aanhou, aanhou slaan en skop…

Hy weet nie wie die polisie gebel het nie. Weet nie wat hom besiel het nie. Hy weet dat hy al woedendkwaad geword het oor honderde goed, maar hy het homself nog nooit so te buite gegaan nie! Hy weet hy het iets in haar verskriklik stukkend gebreek. En hy weet glad nie hoekom sy hom weer ‘n kans gee nie. Heel minste van alles weet hy hoe hy ooit weer homself, of vir haar, in die oë kan kyk…

Hy het haar nog nooit geslaan nie. Sal ook nie. Hy glo vas ‘n man lig nie sy vuiste vir ‘n vrou nie. Maar hy vermorsel haar gereeld met sy woorde. Sarkasties. Minagtend. Neerhalend. Asof sy hom walg – verwerplik is, soos werfhondbraaksel. En as hy eers begin, stop niks hom nie. Nie die pleit in haar stem of die pyn in haar oë nie. Inteendeel, dit hits hom aan. Haar swakheid onderstreep juis sy besitreg, sy eienaarskap, sy mag oor haar. En sy gebrek aan mag oor homself.

Wie gaan hom help? Wie gaan hom uit sy siklus van selfvernedering lig? Wie gaan hom sy waardigheid help herwin? Wie gaan sy hartvuis help oopvou en ontspan? Wie gaan hom help om emosie te verstaan en te respekteer. Om te praat en te luister en te hoor. Om veilig te voel en te laat voel. Wie gaan hom leer van ongeveinsde teerheid? Wie gaan hom oortuig dat manwees nie deur brute krag bewys word nie?

En sy? Wie gaan haar help? Wie gaan die ou geskifte kleed van vernedering van haar aflig en vir haar ‘n nuwe blommerok aantrek? Wie gaan haar help om te glo dat sy waarde het? Wie gaan haar weer oortuig dat sy mooi is en goed en lekker om by te wees? Wie gaan haar help om nie ‘n vloerlap of ‘n vullisblik of ‘n slaansak te wees nie, maar ‘n vrou: sag en sterk en selfversekerd. Wie gaan haar uit die verlamming verlos en haar voete lig maak dat sy weer kan dans?